Video
GROOT-BRAKRIVIER NUUS EN VIDEO - Vyf gesinne van die Greenfield-nedersetting in Groot-Brakrivier het vandag, Vrydag, 10 Desember elk ‘n uitsettingsbevel ontvang om onmiddelik hul huise te ontruim.
Dit volg na die onlangse reën die grond waarop hul huise gebou is, onstabiel gemaak het.
Inwoners het vroegmiddag in Daffodilsingel vergader in weerwil om te trek aangesien hulle geen heenkome het nie. Boonop is daar nie voorsiening gemaak vir tydelike en alternatiewe verblyf nie.
“Hoe moet jy nou in een dag blyplek kry?” het Alicia Heyns aan Mossel Bay Advertiser gesê.
Jovani Jansen beweer dat die Mosselbaai-munisipaliteit glo jare al kennis dra van die kraak wat in hulle area loop.
“Hulle almal het al opnames kom doen hier. Hier gaan van die mense doodgaan as die wal moet skuif,” sê John Jacobs, inwoner van die gebied.
Die direkteur van beplanning en ekonomiese ontwikkeling van die Mosselbaai-munisipaliteit, Carel Venter, het in ‘n verklaring aan die Advertiser gesê dat die raad bewus van die situasie is en die saak het al voor die raad gedien.
Die situasie het egter versleg na afloop van die hewige reën wat die area die afgelope tyd ontvang het. Dieselfde proses moet egter gevolg word, soos ook in ander areas met dieselfde probleem.
Dus moet kennisgewings aan die inwoners van die betrokke huise gedien word, sou 'n huis onveilig vir bewoning word.
Verder probeer die munisipaliteit in samewerking met die provinsiale departement van menselike nedersettings om alternatiewe akkommodasie aan die betrokkenes te voorsien.
Video: Een dag om huise te ontruim
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'