MOSSELBAAI NUUS - 'n Ses-en-twintigjarige gestremde vrou van Hartenbos moes verlede week met haar 15 maande oue baba in haar arms, skynbaar vir haar lewe vlug nadat 'n gewapende man haar by die wasgoedlyn in haar erf oorval het.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie was die vrou, wat doofstom is, besig om wasgoed op te hang op Donderdag, 1 November omstreeks 15:30 toe 'n onbekende, gewapende man voor haar verskyn. Haar babaseun het glo in sy stootwaentjie buite by haar by die wasgoedlyn gesit.
"Sy het die kind gegryp, die huis binnegehardloop en die skuifdeur agter haar toegemaak. Die verdagte het gepoog om die skuifdeur oop te maak met 'n mes wat hy by hom gehad het," berig kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
Die vrou het haar man geskakel om alarm te maak. Terwyl sy besig was om die oproep te maak, het die verdagte haar glo met handgebare gedreig.
"Ek en my vrou het 'n reëling dat as sy my drie missed calls gee ná mekaar, daar groot moeilikheid by die huis is," het die vrou se man vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Nadat die vrou op hierdie manier alarm gemaak het, het haar man die buurtwag van die voorval laat weet.
Die verdagte het uiteindelik die aftog geblaas, maar wel die stootwaentjie gevat en daarmee laat spaander. Die buurtwag is geaktiveer, maar kon nie dadelik die verdagte opspoor nie. Niemand is nog in verband met die voorval gearresteer nie.
Vorige aanvaller gewaar
Die misdaadtoneel in Magersfonteinlaan, is om die draai van 'n gastehuis waar 'n 56-jarige vrou wat die onderneming bestuur, in haar woonstel op die perseel op 13 Oktober deur 'n vermeende rower met 'n vurk aangeval is. Die Mossel Bay Advertiser het verlede maand hieroor berig en ook oor hoe die verdagte amper die vrou se regteroor afgebyt het tydens 'n struweling. Die 32-jarige verdagte is kort na die aanval op die vrou deur buurtwaglede op die strand in hegtenis geneem.
"Ek het daardie man kort na die aanval deur my erf sien kom," vertel die doofstom vrou se man.
"My vrou is okay na wat gebeur het, maar ons slaap sleg snags. Sy is maar bang die ou kom terug." Volgens die man het sy vrou 'n goeie beskrywing van die verdagte gegee.
'n Saak van diefstal, aanranding en poging tot huisbraak word ondersoek deur Ao Jeanette Eyssel van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'