MOSSELBAAI NUUS - Dominee Henri Meyer van die Mosselbaai NG Moedergemeente, sal op 30 Maart, op 53-jarige leeftyd, aan sy tweede volle Ysterman-kompetisie in Gqeberha (Port Elizabeth) deelneem.
Die Ysterman bestaan uit 3.8km swem, 180km fietsry en laastens 42.2km hardloop.
Dit begin om 06:00 en die meeste deelnemers maak na ongeveer 15 uur klaar.
Daar is ongeveer 700 deelnemers.
Henri sê die draf is die moeilikste, want dan is jou lyf en bene al gedaan.
Hoekom straf iemand homself so?
Henri doen dit om geld in te samel vir die gemeente se Aksie Samaritaan-studiefonds.
Aksie Samaritaan is ‘n bediening van die gemeente waar gemeentelede wat finansieel sukkel, maandeliks ondersteun word.
Die studiefonds wil die geleentheid skep vir kinders uit sulke gesinne om verder te studeer ten einde ‘n beter toekoms vir hulleself te skep.
Henri droom daarvan om borge te kry en om R150 000 met sy deelname aan die Ysterman in te samel.
Sy motivering is om die kinders te help om ‘n kans in die lewe te kry en hy glo dat moeilike aksies nie sonder harde werk gedaan kom nie.
Fondsinsamelings op sy fiets Vir hierdie energieke dominee is oefening en veral fietsry ‘n passie. Hy het al etlike fondsinsamelings op sy fiets geloods.
Daar was verskeie fietstoere om fondse in te samel vir, onder andere, die vervolgde kerk, sendelinge en die kerk se jeugbediening.
Hy het ook al die Otter-wandelpad gedraf.
In 2020, tydens die Covid-pandemie, toe die kerk nie basaar kon hou nie, het hy 24 uur lank om die kerkgebou fiets gery en het R250 000 met die poging ingesamel.
In 2024 het hy die eerste keer ‘n volle Ysterman gedoen om geld vir die kerk se bediening aan die haweloses van Mosselbaai in te samel.
Vanselfsprekend is dit noodsaaklik om vir hierdie ervaring te oefen.
Henri oefen ses dae ‘n week. Hy swem drie maal per week om 05:00 soggens. Drie maal per week draf hy en probeer een lang sessie van ongeveer 30km inkry.
Drie maal per week ry hy fiets, waarvan een rit ‘n lang afstand van ongeveer 180km moet wees.
Hy neem aan talle kompetisies in die drie dissiplines deel om ervaring op te doen en is dankbaar dat sy oudste seun saam met hom deelneem.
Vrou se ondersteuning
Sy vrou, Carina, se ondersteuning in hierdie onderneming is van kardinale belang en sy sorg dat hy reg eet, genoeg elektroliete inkry en is ook sy sekondant op die dag van die kompetsie.
Die teksvers wat hom deur al hierdie harde oefening staande hou, is Jesaja 40:31: "... maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.
"Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en word nie afgemat nie."
Op ‘n fietstoer jare gelede het ‘n stukkie papier met hierdie vers daarop, na ‘n harde dag in die saal, op die grond by die oornagplek gelê.
Sedertdien is dit vir Henri ‘n inspirasie.
Ondersteuning vir hierdie verdienstelike saak sal baie waardeer word. Verdere besonderhede is beskikbaar by Corné Human in die Kerkkantoor (044 691 2465).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’