MOSSELBAAI NUUS - Tydens die gereelde Dinsdag-uitreike het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé en sy burgemeesters-komiteelede besoeke gebring aan onder meer elektriese substasies, die Beehive-entrepreneursentrums, strandtoegange in Diazstrand en die dierebeskermingsvereninging (DBV).
Volgens die ruimtelike ontwikkelingsraamwerk en die elektriese meesterplan sal daar in die volgende 10 jaar aansienlike ontwikkeling in die Hartenbos Noord-area plaasvind en is versterking van die elektriese-netwerk dus noodsaaklik.
Die area sluit onder meer Monte Christo, Outeniquabosch en Hartland in.
Die nuwe Hartenbos-noord elektriese 11kV skakelstasie wat nou voltooiing nader sal juis die versterking van die 11kV netwerk meebring.
Die nuwe substasie kry toevoer vanaf die bestaande Sonskynvallei 66/11kV substasie deur middel van twee 11kV kabels, elk ongeveer 2 700m lank, vanwaar die kragverspreiding na die nuwe ontwikkelings plaasvind.
Die totale koste van die kabeltoevoer, nuwe gebou, 11kV skakeltuig en verwante toerusting beloop sowat R14m.
Dierebeskermingsvereninging
Die Garden Route DBV Mosselbaai, ingerig op munisipale-eiendom dien ook as die munisipale skut. Die burgemeesterskomitee het Salome Bruyns, hoof van die DBV-inspektoraat ontmoet en die fasiliteite besoek. Ekonomiese ontwikkeling 'n strategiese doelwit van die raad is ekonomiese ontwikkeling.
Die onderskeie Beehive-ontwikkelings bied fasiliteite aan entrepreneurs en die raadslede het hier hul eerstehands van die omstandighede, behoeftes en uitdagings vergewis.
Op Diazstrand het die raadslede tot hul misnoë uitgevind dat die strandtoegang vir persone met gestremdhede by Twee Kuilen nogmaals gevandaliseer is en groot dele van die handreëlings deur vandale gesteel is.
Dis veral verontrustend dat fasiliteite, gemik op 'n weerlose groep van die gemeenskap, stelselmatig verniel, vernietig en weggedra word.
Voorgestelde padverleggings wat deel sal vorm van die Louis Fourieweg-opgraderings en aan 'n area in Sonskynvallei waarvoor ontwikkelingsvoorstelle ter tafel lê, is ook onder oë geneem.
Die besoeke is belangrik aangesien dit die burgemeester en burgemeesterskomiteelede eerstehandse inligting bied oor infrastruktuur, verwagtinge en probleme sodat hulle hul vinger op die pols van die uitvoering van die raad se strategiese doelwitte hou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'