MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die Wolwedansdam het ná die goeie reën die afgelope naweek, begin oorloop.
Die Wolwedansdam is in die Groot-Brakrivier geleë, sowat 3km stroom-op van die dorp. Die grootste riviere wat die Wolwedansdam voer is die Groot- en Varingriviere.
Die Ernest Robertsondam is naby Jonkersberg geleë en in die Grootrivier gebou. Die Perdeberg- en Tweeriviere vloei ook in die Grootrivier. Vanaf die Wolwedansdam vloei die Groot-Brakrivier na die see.
Die dam is op die oorspronklike eiendom, Wolwedans 129, gebou en is in 1990 voltooi. In 1992 is die dam tot sy volle kapasiteit gevul. Die koördinate van die dam is op breedtegraad 34°01' en lengtegraad 22°14'. Die dam is gebou om water te voorsien aan die destydse Mossref-gaswerke, wat tans bekend staan as PetroSA (Mossgas), en die Mosselbaai-munisipaliteit.
Die dam beslaan 109ha met 'n volume van 24 miljoen m³ as dit op volle kapasiteit is. Die damwal van 70m hoog is 'n kategorie III-swaartekragboogwal van rolbeton met 'n getrapte stroomhelling en 'n konstante stroomradius van 135m.
'n Onbeheerde oorloop is sentraal in die 270m lange kruin van die wal geplaas en water van die oorloop stort teen die getrapte stroomhelling af tot op 'n ongeveer 15m lange horisontale gewapende betonskort waar 'n hidroliese sprong en roller gevorm word. Die oorloop kapasiteit is ongeveer 960m³/s.
VERSKAFDE VIDEO: Wolwedansdam loop oor
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’