MOSSELBAAI NUUS - In 'n reeks artikels oor tieners en hul dinge, skryf Stefanie Minnaar, 'n narratiewe terapeut verbonde aan die Caritas Care-sentum oor ouers se kommer oor hulle 14- tot 15-jariges.
"Ek kry baie navrae van ouers wat baie bekommerd is oor hul tiener, meestal 'n seun, se optrede en vrees dat die tiener sy toekoms gaan vernietig met alles wat hy aanvang," verduidelik Stefanie.
Sy sê ook dat meeste ouers wat haar tydens 2020 se grendeltydperk gekontak het, was ouers van 14- en 15-jarige seuns.
"Die een 15-jarige het sy skoolboeke in 'n Weber aan die brand gesteek. Hy was 'klaar' met sy ma wat 'dink' sy is sy onderwyser."
Sy sê vreemde optredes het niks met ouerskap te doen nie, maar die verandering in die tiener se brein.
"Optredes soos vere voel oor akademie, gereeld in die moeilikheid kom, dagga rook of vaping, verkeerde vriende hê, stupid dinge aanvang soos om 'n sonbril te steel uit 'n winkel as gevolg van 'n dare deur vriende, is tekenend van die verandering in 'n tiener se brein."
Dit lei daartoe dat meer dopamien afgeskei word en dit het tot gevolg:
- afname in vrees
- soeke na die ongewone
- impulsiwiteit
- hiperrasionaliteit (brein wat meer aandag gee aan voordele as nadele, en dit verhoog wanneer die tiener met vriende uithang)
"Die meeste tieners het nie sielkundige berading nodig nie, maar het wel ouers wat verstaan hoekom die tieners geneig is om só op te tree. Tieners het ouers nodig wat hul kan lei deur die storm-en-drangjare.
Besoek Stefanie se Facebookblad Ouer-Tiener Harmonie. Kontak Caritas Care - Mosselbaai 071 473 0507) en George (072 352 7610).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'