MOSSELBAAI NUUS - In 'n reeks artikels oor hoe om jou tiener beter te verstaan, gee pastorale narratiewe terapeut, Stefanie Minnaar 'n paar uiters nuttige wenke.
Sy verduidelik hoekom sestienjarige ouderdom inderdaad "sweet sixteen" genoem word.
"Want 15 is een van die moeilikste jare saam met jou kind. Vyftien is kwaai, ongeskik, hoogs geïrriteerd en knorrig.
Vyftien is selfsugtig en wil heeltyd slaap. Vyftien gaan grense toets. Vyftien, gaan in die moeilikheid kom, veral by die skool. Vyftien gaan jou uitdaag op maniere wat jy nie weet bestaan nie. Vyftien gaan vere voel vir jou gevoelens en gaan jou dinge laat doen soos om 'n selfoon teen die muur stukkend te gooi," verduidelik Stefanie.
Sy brei uit dat vyftien ouers soms self beheer oor hulle optrede laat verloor en dat ook dit, okay is.
"Vergewe jouself. Jy gaan wonder oor jou kind se toekoms en dink dat jy as ouer misluk het. Ignoreer daardie stem. Vyftien gaan die lewe uit jou suig, maar jou 15-jarige het steeds onvoorwaardelike liefde nodig."
Voor jy jou oë kan uitvee, is jou kind 16 en volgens Stefanie, meestal 'n sogenaamde happy chappy wat met jou wil gesels oor hul lewe en jou waardeer vir wat jy doen.
Besoek Stefanie se Facebookblad Ouer-Tiener Harmonie. Kontak Caritas Care - Mosselbaai 071 473 0507) en George (072 352 7610).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'