Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Huis Elsjé bied vanaf Januarie 2023 'n ses-maande kursus aan vir die tuisversorgers van pasiënte wat aan Alzheimersiekte en demensie ly.
Die kursus behels twee dae per week teoretiese studie en drie dae per week se fisiese werk by Huis Elsjé waar studente aan die praktyk blootgestel word om mense met demensie en Alzheimersiekte te versorg.
Volgens Gert Meiring, die bestuurder van Huis Elsjé, is demensie 'n progressiewe siekte en volgens statistiek skiet die versorging daarvan ver te kort.
Hy vervolg: "Wêreldwyd is daar 'n geweldige toename aan persone met Alzheimersiekte en ook in ons gemeenskap. Mense word baie ouer en in ons area is daar 'n groot toeloop van veral ouer mense uit die noordelike provinsies. Baie ouer mense ontwikkel met ouderdom demensie of Alzheimersiekte.
"Hoewel daar baie versorgingsfasiliteite is, kan mense dit nie meer bekostig om hul geliefdes in sulke instansies vir periodes van 10 jaar of langer te laat versorg nie. Dis ook meer gewens om mense tuis te laat versorg voordat hulle in 'n fasiliteit opgeneem word. Daar is 'n definitiewe behoefte aan gespesialiseerde opleiding vir Alzheimersiekte- en demensie-versorging en met hierdie kursus wil ons aan daardie behoefte voldoen."
Huis Elsjé is 'n versorgingsfasiliteit in die Suid-Kaap wat by beide die departement sosiale ontwikkeling en die departement van gesondheid geregistreer is. Volgens die nuutste navorsing wat op Alzheimerdag, 16 September bekend gemaak is, is demensie die sewende grootste oorsaak van dood en een van die duurste siektes om te behandel. Daar is wêreldwyd 55 miljoen mense wat met demensie gediagnoseer is en volgens aanduidings verteenwoordig hierdie syfer slegs 25% van die werklike gevalle. In laer inkomste-lande is hierdie persentasie wat wel gediagnoseer en aangemeld is, maar net 10% van die werklike gevalle.
Die kursus in tuisversorging het plek vir 16 mense.
Mense wat wil aansoek doen vir die eerste van twee kursusse wat volgende jaar aangebied word, kan Gert Meiring kontak by 044 690 3144.
VIDEO - Die bestuurder van Huis Elsje in Mosselbaai, Gert Meiring.
VIDEO - Gert Meiring, bestuurder by Huis Elsje waar pasiënte met Alzheimer en demensie versorg word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'