MOSSELBAAI NUUS - "Delvin! Kan jy my hoor?"
Dit was die eerste woorde van 'n pa van Asla Park toe hy by sy seun se hospitaalkamer instap, waar hy met sy oë toe gelê het.
Deon Safers vertel hoe hy geskrik het toe hy sy seun, Delvin (29), so sien, maar ook van die verligting toe Delvin sy oë oopgemaak en met hulle begin praat het.
Die 25 ure tussen die nuus dat sy seun onder bourommel vasgevang is en die oomblik toe hulle hom weer voor hulle oë kan sien was 'n ewigheid, maar die Safers-gesin het gelukkig die hele Mosselbaai-gemeenskap se ondersteuning en gebede agter hulle gehad.
Delvin, 'n elektrisiën, was een van die werkers wat in die woonstelblok in George se Victoriastraat was toe dit Maandagmiddag net na 14:00 ineengestort het. Hy is Dinsdag laatmiddag bevry.
"Hy lyk goed, hy is net moeg. Hy is uitgeput, jy kan dit sien," het sy pa Donderdagoggend gesê, na hulle die vorige aand by hom in die hospitaal was.
Selfoon
Delvin het sy selfoon ten tye van die ineenstorting by hom in sy broeksak gehad, en kon só eers met sy familie en toe later ook met reddingswerkers kommunikeer.
Om die battery te spaar het hy dit soms afgesit.
Hy het om 05:30 Dinsdagoggend met sy ma, Delmarie, gepraat en gesê hoe lief hy vir hulle is voor hy dit weer afgesit het.
Sy seuntjie, Zyar (2), het toevallig op daardie stadium by haar gespeel. Sy het besluit om 'n foto van hom te neem en vir sy pa te stuur. Deon vertel dit het eers nie deurgegaan nie, maar Delvin het dit tóg uiteindelik gesien voor hy gered is.
"Toe hy die foto van sy kind sien het hy besef hy het iets om voor te lewe en baklei en geweet hy moet sterk wees," vertel sy pa.
Die oomblik toe hulle begin nuus kry dat reddingswerkers naby Delvin was, was daar 'n dankbare opgewondenheid by sy familie. Een van die reddingswerkers het kort-kort vir Deon opgedateer - iets wat hy soveel waardering voor gehad het.
"Toe hulle hom kry toe steek hy sy hand in lug op en skree, 'Deon, hier is hy!'
Wonderwerk
"In daai oomblik dink ek net Here, dankie, dis 'n wonderwerk. Ek kan dit nou nog nie glo nie. Die Here het ons behoed en bewaar. Sy [Delvin] geloof en ons geloof het ons deurgedra. Ons het almal gehuil."
Brendon Adams, wat die gesin na die hospitaal vervoer het waar Delvin was, sê die atmosfeer in die voertuig was een van volslae verligting. Hy het op die toneel vir Delvin gesê hy sal sy ouers na hom toe bring in die hospitaal.
"Delvin, ek wil vir jou dankie sê dat jy so kalm was vir die 25 uur wat jy daar onder daai rommel uit met ons met jou selfoon gekommunikeer het.
"Jy was baie slim om nou en dan jou foon af te sit om sodoende jou battery te spaar. Ek wil vandag vir jou sê jy het my baie beïndruk met hoe jy die hele situasie hanteer het. Ek beskou jou regtig waar as 'n hero," sê sy pa.
Hoewel hy bly is, vertel sy pa Delvin het ook 'n hartseer oor sy kollega wat oorlede is. Hy kon hom onder die puin met sy selfoon se flitslig sien.
Die feit dat verdiepings inmekaar geval het "one time... maak nie sin nie" het Delvin vir sy pa in 'n video-opname in die hospitaal gesê toe hy hom vra hoe hy oor die ineenstorting voel.
Te midde van alles sê Deon en sy familie se dankbaarheid is oneindigend.
Bedanking
"Ek en my familie wil baie dankie sê aan ons hemelse Vader vir sy genade en dat hy Delvin vir 25 uur behoed en bewaar het. Ons wil ook baie dankie sê aan die mense van Suid-Afrika, in besonder die van Mosselbaai, wat ons en Delvin, en almal wat as't ware in daardie rommel lewend begrawe was, in julle gebede gehou het."
Hy het verskeie individue, organisasies, reddingspanne en alle ander betrokkenes bedank vir wat hulle gedoen het.
"Ook spesiale dank aan commander Mervin Govan Olivier van George wat ook deel was van die reddingspan en wat met my voltyds geskakel het en my belowe het dat hulle my seun sal uithaal."
Hy het verder gevra dat die gemeenskap die ander wat nog vasgekeer is in hul gebede hou en gesê hy en sy vrou sal hulle ook bystaan.
Die dodetal van die tragedie is tans op nege en 44 uit die 81 mense was nog vasgekeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’