Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die 2023 Mosselbaai Eisteddfod het verlede week, 17-19 Mei, met groot applous in die Mosselbaai-stadsaal weggespring met 'n asemrowende ver-skeidenheid danse.
Daar was meer as 105 inskrywings, wat 30 groepe ingesluit het. Danse het gewissel van ballet, modern, hip-hop, funk, jazz en klopdanse tot by kontemporêre dans.
FOTOGALERY: 2023 Mosselbaai Eisteddfod
Die jongste dansers was slegs vier jaar oud.
Energie en entoesiasme was aan die orde van die dag en die vindingryke, kleurvolle kostuums en choreografie het beïndruk.
Die beoordelaar, Joubert Jonker, is self 'n fenomenale danser en internasionale beoordelaar. Hy is oor 'n week of wat oppad na Braga in Portugal waar hy deel is van die beoordelaarspan vir die 2023 Dance World Cup Championships. ArtSpace was bevoorreg om hom te kon kry om Mosselbaai se jong dansers te evalueer en van advies te bedien. Soos hy tereg opgemerk het: "Dancing is alive and well and thriving in Mossel Bay!"
Die dansskole, dansonderwysers en ouers kan met reg trots voel op die hoeveelheid goue, honeurs en prestige -sertifikate wat toegeken is.
ArtSpace wens al die dansers geluk met hulle uitstekende prestasies.
Die Mosselbaai-munisipaliteit word ook opreg bedank vir die gebruik van die stadsaal.
Tussen 31 Julie en 18 Augustus vind die ander kategorieë van die 2023 Eisteddfod plaas, naamlik drama, woordkuns, musiek, kletsrym en visuele kuns. Top-beoordelaars sal weer in aksie wees. Die gala-aand vind op 26 Augustus plaas. Verdere inligting is op die Facebook-blad "Mossel Bay Eisteddfod" beskikbaar.
Abé Meintjes van ArtSpace kan ook op sy sel 083 268 3718 gekontak word.
Alivia-Lin Roux en Marnice Janse van Rensburg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’