MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - ‘n Ontploffing en swaar reën het die Seychelles op Donderdag, 7 Desember, geruk en tot die afkondiging van ‘n noodtoestand in die land gelei.
Twee inwoners van Danabaai, Chris en Yolandi Schlebush, was met vakansie op dié eilandgroep tydens die ontploffing, maar het gelukkig ongedeerd daarvan afgekom. Hulle kom vandag, Maandag, 11 Desember terug van hul vakansie.
VIDEO: Skade ná die ontploffing
Hulle is die eienaars van die Danabaai Mediese Sentrum.
Op die dag van die ontploffing was alles absoluut toe, sê Yolandi. “Ons mag ook nie uit ons hotel gegaan het nie.”
Dit het daardie nag ook erg begin reën, maar op Vrydag het dinge weer begin terugkeer na normaal vir besoekers soos hulle.
Die toestand van die strand voor en ná die swaar reën.
“Die ontploffing was tussen ons en die lughawe en paaie was toegemaak. Ons was in die gedeelte wat die ergste gevang is deur oorstromings.
“Dis hartseer om die kinders en die mense se meubels, yskaste ens. op die strate te sien soos die modder afgekom het.”
Sy sê sy dink nie mense besef hoe groot die ontploffing regtig was nie. “Baie van die mense was baie getraumatiseer.”
Dié kennisgewing is op die eilandgroep se amptelike X-blad (Twitter) gedeel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’