DANABAAI NUUS - Die Danabaai-nooduitgang sal na verwagting in Oktober vanjaar afgehandel wees.
Op Dinsdag, 16 Julie, tydens 'n oorsigbesoek aan Danabaai is onder meer gelet op die vordering met die bouwerk aan die nooduitgang.
"Ek is aangenaam verras met die goeie vordering, asook met die kwaliteit bouwerk aan die nooduitgang. Die kontrakteurs, onder aanvoering van ons infrastruktuurdirektoraat, is goed op dreef om die projek binne die beplanningsraamwerk te voltooi," sê wyksraadslid Nickey le Roux.
Le Roux het 'n besoek deur lede van die burgemeesterskomitee en direkteure aan Danabaai gelei waartydens ook besoek gebring is aan beide strande waar die skade aan die strandinfrastruktuur bespreek is.
In 2019 het Mosselbaai se munisipale raad goedgekeur dat die munisipaliteit voortgaan met beplanning vir 'n nooduitgang nadat inwoners dit versoek het. Die beplanning het onder meer die uitvoerbaarheidstudies, omgewingsimpakstudies, die verkryging van die nodige befondsing, onderhandelinge met die private grondeienaars en veral SANRAL, asook die bepaling van die padbelyning ingevolge die padmeestersplan, ingesluit.
Die Raad se goedgekeurde ruimtelike ontwikkelingsraamwerk erken die padmeesterplan wat die toekomstige belyning van hierdie en ander paaie aandui.
Nasionale inperkings weens die Covid-19-pandemie het die vereiste omgewingsimpakstudies en beplanning aansienlik vertraag, maar die projek vorder nou fluks, sê die munisipaliteit.
Die noodtoegang, 'n verlenging van Floraweg, sal by die N2 by die Herbertsdale-kruising aansluit. Beide Danabaai-buurtwag en munisipale nooddienspersoneel sal sleutels vir die twee toegangshekke op die pad hê.
Omgewingsgoedkeuring vir die geformaliseerde nooduitgang is in 2022 uitgereik. Weens die koste daaraan verbonde, is die bouwerk geskeduleer om oor twee finansiële jare te strek en bouwerk het gevolglik vroeër vanjaar 'n aanvang geneem.
Dit blyk dat gehou sal kan word by die beplande afhandeling van die projek, geprojekteer vir Oktober vanjaar. - Mosselbaai-munisipaliteit