MOSSELBAAI NUUS - Die D'Almeida-biblioteek is Dinsdagaand by die jaarlikse Wes-Kaapse Kultuursake-toekenningseremonie by Artscape, met die top-posisie in die kategorie Aansienlike Bydrae tot die Ontwikkeling en Bevordering van Lees en Luister bekroon.
Die hoof van munisipale biblioteekdienste, William Clayton, en personeellede Lizette de Kock en Leilani van der Berg het die geleentheid bygewoon wat die toekenning by minister Anroux Marais ontvang het.
Die toekenning word verwelkom aangesien die biblioteek ook vanjaar sy 40ste verjaardag vier.
Die biblioteek bied ondersteuning aan laerskoolleerders (graad 1 tot 7) deur 'n geakkrediteerde leesprogram, Succeeding through Reading wat by die biblioteek deur biblioteekpersoneel aangebied word.
Die program is in 2022 geïmplementeer. Dit is gratis en moedig kinders aan om soveel boeke as moontlik in al die amptelike tale van die Wes-Kaap (Engels, Afrikaans en isiXhosa) te lees.
'n Kind wat lees vaar nie net goed op skool nie, maar het beter kritiese denke en algemene kennis. Dit word aanbeveel dat 'n kind 20 tot 30 minute per dag moet lees.
Die Greenhaven-biblioteek (Groot-Brakrivier) was ook onder die benoemdes. Die Mosselbaai-munisipaliteit bestuur 13 biblioteke, wat die publiek met trots bedien.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’