Breaking News
BRANDWAG NUUS - Rooiheuwel Farms in die groter Mosselbaai-omgewing het bevestig dat een van sy kuddes in die Brandwag-gebied positief vir bek-en-klouseer getoets het.
Volgens ’n verklaring deur James Robertson van Rooiheuwel Farms het hulle Belvedere (Brandwag) en Rooiheuwel (Klein-Brakrivier) se amptelike toetse gister, Maandag 23 Februarie, ontvang.
“Die Belvedere-kuddetoets is positief vir bek-en-klouseer. Die Rooiheuwel- en Wolfiesvlei-/Georgeheim-kuddes is negatief vir bek-en-klouseer. Neem asseblief kennis dat streng biosekuriteitsmaatreëls steeds van krag bly.
“Isolasie van bestuur, personeel, voertuie en masjinerie bly van krag. Ons doen weereens ’n beroep op die publiek en landbougemeenskap om plaasbiosekuriteitsprotokolle te respekteer. Vermy asseblief die Geelbeksvleipad verby Belvedere sover dit moontlik is. Ons bly verbind tot die beskerming van ons medelandbouers en groter landbougemeenskap.”
Robertson sê hulle het die oomblik toe hulle van die simptome onder die Belvedere-kudde bewus geword het, onmiddellik daaroor kommunikeer sodat ander die nodige maatreëls in plek kon bring.
Een boodskap is op 14 Februarie uitgestuur: “Ons het ’n verdagte/moontlike geval van BEK vanoggend by Belvedere. Ons bring dit onder almal in ons gemeenskap se aandag sodat julle die nodige voorsorgmatreëls en voorbereiding kan doen. Ons doen ’n beroep op ons bure en breë landbougemeenskap om paraat te wees,” het Robertson gesê.
’n Tweede boodskap is op 16 Februarie uitgestuur waarin hulle bevestig dat die staatsveearts alle diere by Belvedere, Georgeheim/Wolfiesvlei en Rooiheuwel ondersoek het en 10 simptomatiese gevalle by Belvedere geïdentifiseer het.
Daarna is alle diere op Belvedere, Georgeheim en Rooiheuwel ingeënt.
“As gevolg van die feit dat ons bedrywighede op verskeie plase plaasvind, kan ons nie die moontlikheid van kruisbesmetting uitsluit nie. Al ons plase word dus bestuur asof besmet.
Ons het om hierdie rede sedert Saterdag alle bestuur, personeel, voertuie en masjinerie op elke plaas geïsoleer.
Biosekuriteitsmaatreëls bly na die beste van ons vermoë op alle plase in plek en ons doen ’n beroep op die publiek en ons landbougemeenskap om ons plaas- en biosekuriteitsprotokolle te respekteer.
Belangrike nota: Inenting is nie 'n ‘wonderoplossing’ nie en dit is belangrik om biosekuriteitsmaatreëls ná inenting te handhaaf om die risiko van verspreiding na naburige plase en die gemeenskap te verminder.
Die virus kan steeds na inenting versprei.
Ons bly verbind tot die beskerming van ons groter landbougemeenskap en doen ’n beroep op ander om voort te gaan met waaksaamheid en gereedheid.
Ons wil graag ons grootste waardering uitspreek teenoor ons bestuur en personeel vir hul toewyding en vasberade optrede, ons veeartsenykundige dienste vir hul vinnige reaksie en gereedheid en al die ondersteuning van ons landbougemeenskap.”
Vorige artikels:
- Foot-and-mouth confirmed in Mossel Bay
- Foot-and-mouth disease: know the signs in cattle
- Test results expected soon for suspected Mossel Bay foot-and-mouth disease case
- Foot-and-mouth disease poses major threat as farmers step up biosecurity
- Boere in Mosselbaai hou asem op: Verdagte bek-en klouseer-geval ondersoek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’