MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se munisipale bestuurder, Adv Thys Giliomee het die twee brandestryders van die Mosselbaai Brand, Redding en Rampbestuursdienste wat sowat 'n uur gelede in 'n ongeluk met een van die brandweerwaens beseer is, sterkte toegewens.
Die brandweerwa moes noodgedwonge en onvermydelik ingespan word om drinkwater vir die Herbertsdale-gemeenskap af te lewer nadat die reservoir daar tot sowat 9% gedaal het. Die voertuig wat gewoonlik vir wateraflewerings gebruik is, is vir herstelwerk in die werkswinkel.
Op pad terug na Mosselbaai om die laaste vrag water vir die dag te kom haal, het die voertuig die pad verlaat en omgeslaan.
Die twee personeel is op die toneel vir beserings behandel en na 'n plaaslike hospitaal vervoer vir mediese behandeling.
"Daar sal trauma-berading vir die personeel gereël word. Ek is self nou op pad na die brandweerstasie om met die hoof, mnr Joseph Johnston en die res van die personeel te praat," aldus die direkteur van gemeenskapsdienste mev Elize Nel.
Volgens alle aanduidings is die brandweerwa onherstelbaar beskadig. Alternatiewe reëlings sal getref word vir die verskaffing van water aan die Herbertsdale-gemeenskap, aldus direkteur Nel.
Die voertuig het die pad verlaat en omgeslaan.
Volgens alle aanduidings is die brandweerwa onherstelbaar beskadig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'