MOSSELBAAI NUUS - 'n Paar inwoners van Heiderand asook Luciano Bayi en Colleen Thysse van die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) moes Woensdag, 12 Januarie bontstaan toe hulle 'n jong duiker in een van die erwe probeer vang het.
Adrian Cairns, plaaslike brandweerman het toevallig die dag by sy ma se huis in Seringstraat verbygery.
Hy merk toe op dat die buurman en die DBV buite staan en stop toe om nadere ondersoek in te stel.
Die bokkie het voor die erf gestaan. Hulle besluit toe om die bokkie in Cairns se ma, Lola se erf in te jaag wat dan die vangproses sou vergemaklik.
Makliker gesê as gedaan, soos die spreekwoord lui.
Met die buurman, lede van die DBV en verskeie ander helpers, het die klein ratse bokkie die mensdom tussen 'n halfuur na 'n uur besig gehou. Eindelik het hulle toe die knapie gevang gekry en is hy sorgvuldig in die DBV se bakkie gelaai.
Die DBV het die duiker weer in die Danabaai-bewaringsgebied vrygelaat.
Eindelik is die viervoetige diertjie aangekeer en met groot sorg in die DBV se bakkie gelaai om op 'n ander plek vrygelaat te word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'