Warning: Graphic content
MOSSELBAAI NUUS - 'n Boer uit die Kleinberg-omgewing het tot op hede minstens 32 skape verloor nadat honde onder sy skape ingeklim en etlike diere doodgebyt het.
Toe Gilbert Muller ten einde raad verlede Donderdag, 12 Augustus met die Mossel Bay Advertiser kontak gemaak het, was sy skade 27 dooie skape, terwyl 14 vir bytwonde behandel is.
Die diere is gedood en beseer tydens voorvalle die vorige week, waarvan die laaste aldus Muller die vorige aand, 11 Augustus plaasgevind het.
Muller het verskeie ontstellende foto's van sy skape aan die Advertiser verskaf wat nie geskik vir publikasie is nie.
"Ek het drie honde gesien, waarvan een swart en 'n ander bruin is," het Muller verlede Donderdag telefonies berig.
Toe die Advertiser Muller Maandag, 16 Augustus kontak om op te volg, het hy gesê dat 'n verdere vyf skape Vrydagaand, 13 Augustus doodgebyt is.
Hy het bevestig dat personeel van die Mosselbaai-tak van die Tuinroete Dierebeskermingsvereniging (DBV) hom verlede week bygestaan het.
"Ons het rondgery, maar kon nie veel uitrig nie." Muller beweer dat die honde vanaf die Bartelsfontein-omgewing kom.
"Ek en die DBV se inspekteur was saam daar, maar almal ontken bloot dat dit hulle honde is. Ons hande is eintlik afgekap."
Muller sê hy voel daar behoort 'n wetswysiging gedoen te word betreffende die aanhou van honde in landelike gebiede.
"In Desember is 40 van ons jong volstruisies binne hulle skuiling op die werf doodgebyt en beseer. Ons het R100 000 se skade gehad. Ons voel werklik uitgelewer."
'n Ander boer, wat in die Bartelsfontein-omgewing met volstruise boer en wat verkies om anoniem te bly, bevestig dat hy dieselfde kopsere het.
Van die foto's wat aan die Mossel Bay Advertiser beskikbaar gestel is, is te grusaam vir publikasie.
"Van my kuikens is doodgebyt en ons het ook volwasse voëls verloor. Die honde jaag hulle en uit vrees, het hulle in heinings vasgehardloop. Al word hulle behandel, kom hulle nie sommer reg nie en vrek uiteindelik," verduidelik die boer.
Hy sê dat hy maar voorkomend probeer optree om die rondloperhonde weg te hou. Dít, meen hy, is egter maar 'n hopelose stryd aangesien daar kort-kort ieder geval nuwe honde na die omgewing gebring word.
Muller verduidelik dat hy vanghokke stel wat deur die DBV aan hom beskikbaar gestel word. "Dit bly egter 'n groot probleem. Mens kan nie oral keer nie. Die honde kom amper elke tweede aand."
Louis Struwig, operasionele bestuurder van die plaaslike DBV het by navraag gesê dat hulle boere probeer bystaan om die honde te vang.
"Andersins, doen ons opvoeding onder landelike gemeenskappe wat die aanhou van hulle honde betref."
Struwig het ook gesê dat honde wat een keer plaasdiere aanval, geneig is om dit aan te hou doen.
Muller sê dat rondloperhonde nie hulle enigste kopseer is nie, maar dat veediefstal ook aan die orde van die dag is.
Sersant Kappie Kapp, kommunikasiebeampte van die KwaNonqaba-polisie het lede van die landelike gemeenskap aangemoedig om sodanige sake onverwyld aan te meld. "Die polisie sal dan 'n saak van kwaadwillige saakbeskadiging ondersoek of die eienaars van die honde kan aangekla word vir loslopende diere."
Van die skape is doodgebyt en net so gelos.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'