MOSSELBAAI NUUS - Die bekende sanger, Blackie Swart, se lewensmaat en vennoot in die Blou Kombuis Restaurant, Mienkie Vorster, is verlede week oorlede.
Die restaurant, in Klein-Brakrivier geleë, het Woensdagmiddag 18 Maart, 'n dag ná haar dood, hierdie hartseer nuus op sy Facebook-blad gedeel.
"Ons eer Mienkie Vorster, ons vennoot, ons lig, ons vrolike baas/waitress/barlady en entertainer. RIV, beautiful soul. We miss you already ... so much."
Die reaksies van vriende en besoekers aan die restaurant was van hartgebrokenheid en skok. Medelye en huldeblyke oor haar vriendelike en spontane menswees, asook die groot leemte wat sy laat, stroom steeds van oraloor in.
Swart self is gebroke en het kortliks met Mossel Bay Advertiser gesels oor Mienkie, haar "sonneblompersoonlikheid", en hoe hy en haar geliefdes haar verloor het. "My lewensmaat is weg, en tussen die snikke deur moet ek die drade weer span," sê hy.
Swart sê hierdie sonneblom-menswees, haar werketiek en haar lewenslus is wat mense na haar toe aangetrek het.
Agter hierdie aansteeklike, laggende persoonlikheid was daar egter die pyn, stres en onsekerheid van kanker en wat dit vir haar toekoms sou inhou, sê Swart. Sy het 'n geskiedenis van borskanker, ander kwaadaardige tipes en vermoedelik breinkanker gehad. "Sy het baie daarvan weggesteek, maar ek vermoed dis hoekom sy uiteindelik haar eie lewe geneem het, omdat dit te veel vir haar geraak het."
Maar haar lewe en spesifiek hóé sy dit gelewe het, eerder as hoe dit tot 'n einde gekom het, is iets wat Swart wil onthou.
"Sy was, alhoewel klein en vroulik, baie lief vir jag en hengel en was 'n ywerige diepseehengelaar. Sy het ook nie teruggestaan vir bungee of ziplines nie. En die beste kok wat jy kan kry - Blou Kombuis se spyskaart is vol van haar resepte," vertel hy.
"Mag jou glimlag en sprankel soos vuurwerke in die hemel wees. God het jou elders nodig gehad."
'n Begrafnisdiens vir Vorster is Dinsdag 24 Maart by die Woord in Waarheid Bediening in Mosselbaai gehou.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’