Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Charles Theunissen het sommerso stil-stil saam met die Tarka Straatfees sy jongste boek,
Die kinders van Tarka en elders verlede week bekendgestel.
Dié beskeie skrywer het vier jaar gelede met hierdie projek begin pas na sy vorige boek Mosselbaai se vergete Rugby Helde verskyn het.
Sy jongste boek verkoop reeds soos soetkoek.
Charles verduidelik dat lesers in hierdie boek besonderse en seldsame, geskiedkundige foto's sal raakloop.
"Mense sal hulle verkyk aan foto's wat mens nie aldag te siene kry nie."
Die stofomslag het reeds twee besonderse foto's - 'n lugfoto van Tarka wat dateer uit 1937 asook 'n foto van kinders by 'n Kerspartytjie in die jare 60, destyds aangebied deur die Shell-oliemaatskappy.
Interessant genoeg, is van die mense op daardie foto, nou ook al mense van jare, onder die gretigste om die boek aan te skaf.
"Ek kry baie goeie terugvoering oor die boek, veral vanuit onderwyskringe."
Charles verduidelik dat sy liefde vir skryf al oor jare kom. Sy pa was glo 'n boekwurm en het Charles aangemoedig om te lees.
Die groot vraag aan enige skrywer by 'n boekbekendstelling is of daar 'n volgende projek uit sy of haar pen die lig gaan sien en in Charles se geval, is daar geen uitsondering nie.
Kyk 'n video hieronder:
"Ja beslis. Ek dink hierdie keer aan iets soos 'n musical tribute skryf oor die musikante wat nie meer met ons is nie."
Charles is self musikaal. "My pa en ma het saam musiek gemaak. Hulle was die enigste radio in ons huis gewees."
ARTIKEL, VIDEO & FOTO: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Hessequa nuus'