Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Bekende sakeman van Mosselbaai, Adolf Jacobus (Dolf) Botha (65), is Vrydagaand, 18 Augustus, noodlottig beseer toe hy met sy BMW 1200 GS motorfiets op Louis Fourieweg in 'n botsing met 'n voertuig betrokke was.
Botha was van sy sakeperseel, die Blue Bottle Liquor King drankwinkel in Heiderand, na sy woning in Danabaai onderweg toe die ongeluk om ongeveer 19:50, sowat 100m van Mayixhalestraat, plaasgevind het. Hy is op die toneel dood verklaar.
'n Goeie vriend van Botha, Jacques Mostert, het aan Mossel Bay Advertiser gesê dat hy dié presiese dag (18 Augustus), sewe jaar gelede vir Botha aan die BMW 1200 GS motorfiets bekendgestel het.
"Op dieselfde datum sewe jaar later is my vriend dood met dié fiets," vertel Mostert.
Jannie Kidson, wat Botha vir langer as 30 jaar ken, het aan die Advertiser gesê: "Ons het baie jare saam gewerk op 'n gespesialiseerde ondersoek-eenheid van die polisie. Hy was op Messina gestasioneer en ek op Pietersburg. "Hy was 'n baie toegewyde speurder wat sy werk ernstig opgeneem het."
Volgens Kidson het die Botha's, na hy uit die polisie is, vir 'n kort tyd in Vryburg gebly voor Botha en sy vrou, Heleen hulle in Augustus 2013 op Mosselbaai gevestig het. "Hy was baie lief vir see-hengel en jag."
"As eienaar van 'n drankwinkel, was hy een van min wat die pandemie oorleef het ondanks vele uitdagings," vertel Kidson.
Volgens die familie sal daar 'n private verassing wees. Later sal daar 'n privaat geleentheid wees waar slegs die familie sy lewe sal vier in ooreenstemming met sy wens. Botha se dogter, Ilana Botha, het aan die Advertiser gesê dat hulle namens die familie, die gemeenskap bedank vir hulle liefde en ondersteuning in hierdie hartseer tyd.
Botha word oorleef deur sy vrou, Heleen, sy dogters, Natascha en Ilana, en sy drie kleinkinders, AJ, Emilia en Beatrice.
Ooggetuies
Kidson het namens die familie ook gevra dat enigiemand wat ooggetuies was of oor enige inligting beskik met betrekking tot die voorval, asseblief na vore sal kom. "Die inligting is dat die bestuurder van die voertuig wat in hom vas gery het van die toneel weg gehardloop het. Die familie sit met soveel weergawes van wat daar gebeur het, en ek dink dit is net regverdig dat ons so gou moontlik die familie van die waarheid kan voorsien," sê Kidson
Sersant Kappie Kapp, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat 'n saak van strafbare manslag geopen is. Geen verdere besonderhede is deur die polisie aan die Advertiser bekend gemaak nie en die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek.
Enige ooggetuie van die ongeluk kan sers Thurston Amsterdam kontak (044 606 2850).
Vorige artikels:
Adolf Botha hier by sy BMW 1200GS.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’