TUINROETE NUUS - Dr. Muller Strydom van die George-dierehospitaal sê hy het talle navrae van boere gehad wat wou weet waar hulle entstof kan kry, maar hy maan dat entstowwe streng onder die Verenigde Nasies se Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid beheer word, en dit mag slegs amptelik deur die regering versprei word.
Die Wes-Kaapse regering het verlede week aangekondig dat R100 miljoen beskikbaar gemaak gaan word vir die verkryging van entstowwe vir bek-en-klouseer.
By ’n vergadering van die Outeniqualand-boerevereniging op Maandag 9 Februarie, is daar egter kommer uitgespreek oor vertragings in regeringstrukture met die vrystelling van nuwe ingevoerde entstowwe.
Dr. Riaan Putter, ’n privaat veearts van George, het by die vergadering gesê die beskikbaarheid van entstowwe is kritiek. Die hele kwarantyngebied naby Hartenbos moes binne 48 uur ingeënt gewees het.
“Dit help nie om ’n week te wag nie, dan raak die 10 km ’n 20 km of 30 km. Ek is baie bekommerd dat ons dalk binne ’n week vyf plase gaan inent, en oor twee weke 20 plase omdat ons nie die eerste 48 uur gehaal het nie. En dis nie ons skuld nie. Daar is nie entstof nie.”
Die Turkse en Argentynse entstowwe wat die regering nou invoer, is die middels van keuse.
Die Turkse entstof bevat ’n merker wat dit moontlik maak om te onderskei tussen ’n dier wat ingeënt is en een wat natuurlik met die virus besmet is. “Daar is reeds Turkse entstowwe in die land. Die uitdaging is net om hulle beskikbaar te kry.”
Putter het gemaan teen onwettige entstof wat in die land ingebring is. Van die plaaslike boere is al daaraan blootgestel en dis by die owerhede aangemeld. “Daar is geen kontrole oor [hierdie entstowwe] nie en ons weet nie wat dit bevat nie. Daar is ook stamme in wat nie by ons voorkom nie. Dis op die swartmark teen ’n geweldige prys beskikbaar, maar jy weet nie of jy water of dalk ’n lewendige virus koop nie.”
’n Koper kan onwetend ’n stam koop wat nie in die land voorkom nie en kan so ’n heel nuwe epidemie begin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’