Gallery
MOSSELBAAI NUUS EN GALERY - Die Barbarians het in hul derde vriendskaplike wedstryd gewys hulle gaan beslis nie dié ligaseisoen vir ’n ander klub terugstaan nie.
Met hul tuisskare agter hulle op D’Almeidapark het dié span verlede Saterdag ’n 33 - 10-oorwinning oor Caledon, een van Boland se topklubs, behaal - Babaas se spelpeil verbeter week na week.
Ook die B- en C-span het hul opponente onderskeidelik met 59 - 12 en 22 - 12 verslaan.
In die eerste helfte was dit ’n gelykopstryd tussen die twee A-spanne, waarvan Caledon die meer aanvallende span was. Die besoekers kon egter met die wind van agter ongelukkig nie die tuisspan se doellyn vir ’n vyfpunter oorsteek nie.
Goeie verdedigingslinies deur die Barbarians voor en agter het hul aanvalle in die kiem gesmoor.
’n Caledon-speler kry vir Edgar Syfers (losskakel) beet terwyl die vleuel, Eljarro Fleur (links), gereed maak om die bal te ontvang. Foto: Dvandré Jordaan Photography
Dewanley van Rensburg, veelsydige agterlynspeler van die tuisspan, het ná goeie samespel tussen die voor- en agterspelers vir die eerste drie van die wedstryd oorgegaan. En nie lank daarna nie het hy sommer wéér gaan druk.
Teen halftyd kon Caledon slegs met ’n strafskop slaag.
In die tweede helfte was dit Babaas se beurt om die wind van agter te benut. Met goeie aanvallende spel het hulle die besoekers onder druk geplaas en nog drie keer agter die doellyn gaan kuier.
Die Bolanders, daarteenoor, kon egter weens ’n paar hanteerfoute en swak afronding net een keer gaan druk.
Krediet aan die tuisspan se pak voorspelers wat die vaste fasette oorheers het en die platform vir die oorwinning geskep het.
Die Barbarians se agterlyn het ’n paar nuwe aanwinste en lyk gevaarlik met bal in hand - hulle kan sorg vir ’n paar verrassings in die supeligawedstryde.
Komende Saterdag meet die Barbarians weer teen Groot-Brakrivier kragte, hierdie keer op die Brakkies se tuisveld, House of Pain.
Verlede jaar kon Babaas hulle daar klop, maar ná die Barbarians twee weke gelede op hul eie tuisveld die knie vir hul bure moes buig, sal hulle beslis alles wil insit om dié keer as oorwinnaars van die veld te stap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’