MOSSELBAAI NUUS - 'n Driekuns deur die spoedvraat Justin Bhana (regtervleuel) van Barbarians het Heidelberg op die D'Almeida-sportterrein in Mosselbaai, gekelder. Die tuisspan het met 30-27 gewen en skuif nou op na die eerste posisie op die punteleer van die SWD Premierliga.
Macdelin Saayman (losskakel) en Winston Seconds (slot) het die wenspan se ander drieë gedruk. Saayman slaag ook met 'n strafdoel en Morné Buis (skrumskakel) klits 'n doelskop oor.
Marquit September (binnesenter), Gurshwin van Rooyen (regtervleuel) en Martin Hartnick (plaasvervanger) is vir Heidelberg oor vir drieë. Pieter van Rensburg Uys (heelagter) slaag met drie doelskoppe en twee strafdoele.
Groot Brak
Groot-Brakrivier het op sy tuisveld vir Blanco met 38-20 getroef. Maseleidien Korkee (binnesenter), Henlinn Botha (losskakel, 2) Anvor Ohlson (slot) en Jean Pierre Kock (plaasvervanger-haker) is oor vir drieë vir die wenspan. Botha slaag ook met vier doelskoppe en 'n strafdoel en Roshwin Abrahams (heelagter) klits ook 'n doelskop oor.
Evergreens
Evergreens se kookwater-binnesenter, die 28-jarige Marshall Boesak, was Saterdagmiddag hul beste speler in hul oorwinning van 60-3 oor Maori's op die Pacaltsdorp-sportterrein.
Evergreens het in winderige omstandighede met aanskoulike hardlooprugby voor die dag gekom en weer die spel gelewer wat hul vanaf 2014-2016 die SWD Premierliga-rugbykompetisie laat wen het.
Evergreens se agttal het die grondslag vir die oorwinning gelê. Veral in die skrums het hul vir Maori's harde bene laat kou. Met die baie balbesit het hul tien pragdrieë gedruk.
Crusaders
Crusaders het op die Rosemoor-sportterrein karakter getoon deur 'n rustyd agterstand van 7-29 uit te wis teen Silver Stars en met 36-29 te wen. Crusaders het met die ses pragdrieë getoon dat hulle oor genoeg skietgoed beskik om die uitspeelrondes te haal. Die wenspan het in die skrums en vaste fasette die oorhand gehad.
Bridgton
Die wedstryd wat Saterdagmiddag tussen Progress en Bridgton op die Bridgton-sportterrein sou plaasvind, is uitgestel na Sondag, 15 Julie. Die wedstryd sal regstreeks op TV gebeeldsend word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'