MOSSELBAAI NUUS - Die Tuinroete het 'n Mediterreense maritieme klimaat, wat uit gematigde somers en koel winters bestaan.
Dit is een van die rykste reënval-streke in die land en meeste van die reënval kom gedurende die wintermaande voor.
Dit word aangewakker deur nat seewinde van die Indiese Oseaan.
Baie inwoners het bevestig dat die afgelope paar weke se reën wat in die streek voorgekom het, sterk herinner aan dit waaraan hulle in die verlede aan gewoond was toe dit sommer vir 'n paar dae aaneen gereën het.
Die afgelope seisoen het inwoners hoë daaglikse reënvalsyfers op hulle persele gemeet. Frik Strydom het vir Junie 145mm in Reebok gemeet. Paul Bosman van Renosterbos Estate het vanaf Saterdag, 24 Junie tot Woensdag, 28 Junie, 48mm in sy tuin gemeet. Pieter Swanepoel van Danabaai het in dieselfde tyd 36mm reën gemeet.
Die afgelope naweek het feitlik die hele land mooiweer gehad, maar ons is nog in die middel van die winterreënval-seisoen en nog reën is altyd welkom. Dinsdag, 4 Julie, het Mosselbaaiers regte Kaapse weer beleef met ligte reën wat oor die streek neergesak het.
Damme
Die stand van die streek se damme lyk belowend, maar inwoners word steeds gemaan om water spaarsamig te gebruik. Die Ernest Robertsondam en die Wolwedansdam is in die Groot-Brakrivier gebou.
Die twee damme voorsien hoofsaaklik water aan die streek. Verlede week was die vlak van die Ernest Robertsondam 100,95% en die Wolwedansdam 100,24%.
Die Hartbeeskuildam het die afgelope paar weke vanaf 5 Junie se vlak van 5,77% gestyg tot vier weke later na 81.81%. Die Klipheuweldam het die afgelope week met 10,91% gestyg en staan nou op 73,83%.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'