MOSSELBAAI NUUS - Die Tuine en Tossels-groep het op Woensdag, 9 Oktober, by die Sonja Smith Elite Funeral Group, in Blandstraat, Mosselbaai byeengekom vir vandeesmaand se geleentheid. Oktober se tema was bye.
Doktor Ezette du Rand, senior navorser in insekfisiologie, was ook teenwoordig. Du Rand was die gasspreker vir die dag, met betrekking tot die tema van bye.
Sy het die groep toegespreek met 'n praatjie oor die wonderlike wêreld van bye.
Sy is tans betrokke by die Universiteit van Pretoria by die departement dierkunde en entomologie.
Gaste het 'n klein dankie-geskenk ontvang, wat twee heuninglepels en 'n oulike kaartjie ingesluit het. Biancé Kearney, lid van Tuine en Tossels, het ook 'n spesiale drankie gemaak, bestaande uit 'n heuningbostee.
Nicky Smith, Luzette Jacobs, Salomé Engelbrecht, Essie Cloete, Lizette Cornelissen (bo links), Dr Ezette du Rand (bo middel) en Biancé Kearney (bo regs). Foto: Marie de Korte
Tuine en Tossels gee ook terug aan die Mosselbaai-gemeenskap. Die afgelope twee jaar is Benevolent Park ouetehuis dié groep se omgee-projek.
Tussen skenkings, maak hulle tyd om voortdurend by Benevolent Park betrokke te wees, en om 'n verskil in die lewens van die bejaardes te maak.
Tuine en Tossels is 'n groep vroue wat vir amper 10 jaar bestaan.
Die groep is opgedeel in sewe onderafdelings, en elkeen is verantwoordelik vir die reël van 'n geleentheid van hul keuse en die reël van 'n relevante gasspreker elke maand. Elke groep word 'n maand toegeken waarin hulle met hul projekte kan woel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’