TUINROETE DISTRIKSNUUS - Na die erge stormskade aan strukture op Gouritsmond nadat 'n haelstorm op 5 Mei losgebars en swaar reën daarna geval het, moes minstens sewe huise deur permanente inwoners vir 'n onbepaalde tyd ontruim word.
Etlike ander eiendomme wat as vakansiehusie gebruik word, is ook erg beskadig.
Inwoners het mekaar verlede week bygestaan om stoorplek vir meublement te kry. Volgens inligting het 'n matte-onderneming op Mosselbaai, verlede Vrydag, 14 Mei minstens drie vragte matte en ondervelt in 'n dag weggery en daar word berig dat etlike motors wat buite gestaan het tydens die storm, beskadig is.
Een van die grootste kwelpunte waaroor die Mossel Bay Advertiser verlede week berig het, was die groot hoeveelheid strukture met asbesdakke wat deurgeloop het.
Ingevolge die regulasies soos uitgevaardig in November 2020 wat handel oor die hantering van asbes, mag slegs geakkrediteerde kontrakteurs asbes verwydering doen.
Na die grootskaalse skade, spel dit moontlike koste-implikasie vir eiendomseienaars in Gouritsmond. Daar bestaan ook kommer oor die vertraging wat hierdie toedrag van sake in terme van die nodige herstelwerk kan meebring
Navrae oor moontlike toetrede en bemiddeling deur die Hessequa-munisipaliteit is gerig en terugvoering hieroor is verlede week eers na druktyd op Donderdag, 13 Mei ontvang.
In hulle reaksie het die munisipaliteit by monde van die woordvoerder, Didi Budricks bevestig dat 'n versoek om vrystelling deur die kantoor van die uitvoerende burgemeester aan minister Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning gestuur is.
"Die munisipaliteit nog steeds in afwagting vir terugvoering vanaf die minister se kantoor. Hessequa-munisipaliteit se eiendomsbestuurafdeling het ook kwotasies van 'n kontrakteur aangevra om beskadigde asbesdakke van munisipale geboue te vervang en te verwyder, soos vereis deur die relevante wetgewing. Die kontrakteur, wat geregistreer is om asbes te verwyder, se besonderhede is aan die gemeenskap beskikbaar gestel, wat op eie koste en onafhanklik van die munisipaliteit van die kontrakteur gebruik kan maak," het Budricks berig.
"Addisioneel, is 'n aansoek om fondse vir die herstel van 17 huise se beskadigde asbesdakke ook deur die munisipaliteit se gemeenskapsdienste direktoraat voorberei en by die departement van menslike nedersettings ingedien vir oorweging, en word die uitkomste daarvan tans afgewag. Die 17 huise is in Bietouville geleë.
"Alhoewel dit nie die verantwoordelikheid is van plaaslike owerheid om toe te sien dat die verwydering van asbes deur privaat persone ook ingevolge die toepaslike wetgewing geskied nie, poog Hessequa-munisipaliteit altyd om alle inwoners by te staan en prosesse vir belastingbetalers/inwoners te vergemaklik. Hierdie aksie van Hessequa-munisipaliteit is deel van die praktiese uitlewing van die raad se beleid as omgee munisipaliteit soos in die raad se GOP uiteengesit."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'