MOSSELBAAI NUUS - Arigtek Dawie Nel (63), wat sedert 1996 talle landmerke in die Suid-Kaap agtergelaat het, het die slagspreuk architecture is personal by uitstek in sy werk laat gestalte vind.
Dít blyk duidelik uit die wye emosionele reaksie op sy afsterwe verlede Donderdag, 28 Januarie.
Dawie het in Bloemfontein grootgeword en daar studeer. 'n Jarelange vriend, wat saam met hom studeer en ook meer as 'n dekade lank by 'n argitekfirma in die stad gewerk het, Johan de la Rey, sê dat Dawie 'n besonderse student was. "Sy werk was altyd afgehandel en op datum. Hy het nooit soos ons gesukkel om goed klaar te kry nie." Dawie is verskeie kere as topstudent aangewys.
Plaaslik bekende argitek, Dawie se vorige vennoot en boesemvriend, Ian Hamilton beaam dat een van Dawie se uitstaande kenmerke die gehalte van sy werk was.
"Hy was nie net goed in sy werk nie, maar baie lief daarvoor. Afwerking was baie belangrik en die kliënt se behoefte het voorkeur gekry." Hulle was 23 jaar lank vennote en bekend vir hulle uitnemende pro bono werk vir kerke en ook The Haven-nagskuiling.
Pastore Zane en Erica Caetano van New Life-gemeente sê dat hulle Hamilton Nel Argitekte ewig dankbaar sal wees vir hulle uitsonderlike bydrae tot die kerk se groei en ontwikkeling. "Dawie was 'n getroue vennoot in die geloofsgemeenskap," sê Zane.
Hamilton Nel het ook 'n fundamentele rol gespeel in die Heart to Heart-sorgsentrum se werksaamhede, met Nel wat op die organisasie se raad gedien het. "Dawie laat diep spore in baie harte," sê Erica.
Danksy Dawie se groot belangstelling in die argitektoniese geskiedenis van Mosselbaai, het hy sewe jaar op die dorp se Estetiese, asook die Erfeniskomitee gedien wat 'n wakende oog hou oor die restourasie van en aanbou aan ou geboue.
Op sy aanbeveling is 'n studie deur die Mosselbaai-munisipaliteit gedoen, wat tot die samestelling van 'n handleiding vir argitektoniese en ontwerpriglyne gelei het.
Arigtek Zack Wessels, wat Dawie se aandeel in Hamilton Nel oorgeneem het, loof Dawie se bydrae tot die ekologiese landskap van Mosselbaai. Vir iemand wat Dawie kort geken het, vat hy raak in sy opsomming.
Stil en beskeie soos hy was, het Dawie met sy passie vir lugvaart, 'n onversadigbare lus vir die lewe gehad. Een van sy onlangse avonture was om die Mighty Men-geloofskonferensie in die Vrystaat per fiets te bereik. "Sy positiwiteit en humorsin was aansteeklik en inherent deel van wie hy was," sê Zack.
Dawie het ophou werk toe 'n sonderlinge neurologiese kondisie bekend as progressive supranuclear palsy by hom gediagnoseer is. Hy is aan natuurlike komplikasies wat deur die kondisie veroorsaak word, oorlede. In die maande wat hy siek was, het hy gereeld die begeerte uitgespreek om groter bewusmaking van dié kondisie te skep.
Ten spyte van sy gesondheid, het Dawie hom toegewy aan een laaste groot projek, eintlik sy lewenstaak.
Om 'n huis vir sy vrou, Ilse en seuns, Davey en Stefan op sy lieflingplek, Nautilus Bay te bou. Die droomhuis is in Desember 2020 voltooi.
Een van sy besonderse nalatenskappe, is die verwelkomende "metaalvlaggies", 'n uitbeelding van Mosselbaai-munisipaliteit se logo, wat die ingange na Mosselbaai, Danabaai en Groot-Brakrivier versier.
Dawie Nel se lewe word op 10 Februarie om 11:00 vanuit New Life-kerk gedenk. Vanweë Covid-19-protokol, kan die diens by 'n aanlynskakel gevolg word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'