MOSSELBAAI NUUS - Life Bay View hospitaal sal Vrydagaand, 28 September vanaf 19:00 tot 21:00 rooi getooi wees ter viering van Wêreld Hart Dag.
Hoewel die dag na regte eers op Saterdag gevier word, sal die privaathospitaal reeds op Vrydag gestalte gee aan dié besondere dag, juis omdat Life Bay View die enigste Kardiologie-eenheid in die Suid-Kaap bied.
Personeel sal vandag rooi dra en in die loop van die dag sal bloeddruktoetse tussen 10:00 en 12:00 gratis in die ontvangsarea gedoen word. Inligtingstukke oor gesonde eetgewoontes sal deur die dieetkundiges versprei word.
Die hoogtepunt sal egter wees wanneer die hospitaal vanaand vanaf 19:00-21:00 met ‘n rooi lig aan die voorkant van die hospitaal belig sal word. ‘n Wit hartjie in hierdie rooi muur sal verder deel vorm van die bewusmakingsaksies vir die dag.
Die hospitaal verwelkom op 1 Oktober 'n nuwe kardioloog wanneer dr HW Snyman by die uitstekende span spesialispraktisyns wat Mosselbaai van ander dorpe onderskei, aansluit.
Inwoners word uitgenooi om vanaand te kom loer hoe mooi die hospitaalgebou in rooi getooi word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'