MOSSELBAAI NUUS - Gewigstoot is duidelik in die Van Rensburg-bloed. Walter van Rensburg (17) het by die Afrika-juniorkampioenskappe vir o. 18- en o. 20-atlete in Nigerië 'n goue medalje vir gewigstoot verower.
Dié byeenkoms het van 16 tot 20 Julie plaasgevind. In 2023 het sy ouer broer, JL, ook by dié byeenkoms in gewigstoot naam gemaak.
"Dit is 'n groot voorreg om op internasionale vlak deel te neem. Om my land te verteenwoordig maak al die harde werk die moeite werd," sê Walter.
Dié jong atleet is 'n gebore Mosselbaaier. Hy was 'n leerder by Laerskool Park en daarna by Hoërskool Punt, voor hy na Hoërskool Outeniqua in George oorgeskuif het.
Walter sê hy neem al sedert 10- jarige ouderdom aan gewigstoot deel. "My ouers se ondersteuning en die skuif wat ek na Outeniqua gemaak het, het my gewigstoot ongelooflik baie bevorder. My afrigter, Jacques Wolfaardt, het lang ure opgeoffer en my gehelp."
Walter van Rensburg en sy afrigter, Jacques Wolfaardt, ’n onderwyser by Hoërskool Outeniqua waar Walter skoolgaan.
Ouboet het natuurlik ook 'n groot rol in sy gewigstootloopbaan gespeel. "Hy het my geïnspireer toe ek op laerskool gekyk het hoe hy oefen. Hy het moeilike paaie gestap om die gewigstoottegniek te bemeester en het my ook gehelp, daarom is hy iemand wat ek bewonder."
JL sê hy is ongelooflik trots op sy boetie. "As jou ouer broer en iemand wat self gewigstoot doen weet ek watter harde werk, opoffering en voorbereiding dit verg om aan so 'n byeenkoms deel te neem, en om dit dan te wen met 'n stoot van 19,04 m sê alles van jou toewyding en sterk mentaliteit. Jy het gewys dat jy jou nie deur omstandighede laat onderkry nie."
Walter en ouboet JL van Rensburg verlede Desember in Glentana. Foto: Klawer Photography
Midde-in die inspirasie en trots is daar ook so 'n bietjie gesonde kompetisie tussen die twee broers - hulle verskil maar slegs drie jaar.
JL sê hy hoop hulle kry nog eendag die kans om saam aan 'n kompetisie deel te neem, "sodat ons finaal kan uitvind wie die eintlike gewigstoter is!"
Walter meen sy broer lýk miskien soos een. "Maar ek ís eintlik die regte gewigstoter."
In die komende paar maande gaan Walter vir die top 10-byeenkomste aan die einde van die jaar oefen. "En ek berei voor om hopelik bevoorreg genoeg te wees om volgende jaar deel van die o. 20- Wêreldspele-atletiek te wees."
Die boeties se pa, Johan, se trots en dankbaarheid wanneer dit by sy kinders kom ken geen perke nie. "Ek dank die Here vir my kinders se seëninge en gawes. Ek wil net vir Walter sê dat die jare, dae en ure se oefening en deursetting nou vrugte afwerp, en Fillipense 4:13 - Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’