MOSSELBAAI NUUS - ACVV Huis Elsjè, versorgingsfasiliteit vir persone met demensie, meer spesifiek Alzheimer se siekte, vier vanjaar hul negende bestaansjaar. Hul inkomste word hoofsaaklik verkry uit die heffing van markverwante losiestariewe wat, aangevul word deur fondsinsamelings en donasies.
Op 22 September om 19:00 hou die tehuis 'n fondsinsamelingsgeleentheid in die Mosselbaai-stadsaal met die nimlike aktrise Lizz Meiring as aanbieder en afslaer tydens die wynveiling. Motiveringspreker en sportsielkundige, Christo Spies is die gasspreker met krieketspeler en sportkommentator Boeta Dippenaar, asook die veelsydige Jonathan Beukes, wat krieket gespeel het vir die SWD, die Knights en Skotland wat ook teenwoordig gaan wees.
Die gemeenskap word genooi om hierdie geleentheid te ondersteun ten bate van die ACVV Huis Elsjè. Kaartjiekoste beloop R200 per persoon of ‘n tafel van 10 teen R2 000 wat insluit ‘n driegang-maaltyd en die keur van plaaslike wyne op die tafel. ‘n Kontantkroeg is ook beskikbaar.
Besprekings kan gemaak word by Nakkie Zerwick en Janita Janse van Rensburg (044 690 3144/5).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'