MOSSELBAAI NUUS - By die aanvang van haar 80ste verjaarsdagete het die oud-Mosselbaaier en voormalige vryskutjoernalis van Mossel Bay Advertiser, Cynthia Zietsman, ’n bottel Vergenoegd-sjampanje van Ena en Myburgh Briers ontvang - met die uitdruklike versoek dat sý self die prop moet laat uitskiet.
“Vergenoegd? Is dit dalk ’n voorbode?” het Zietsman ondeund geglimlag.
Wel, dit hét byna so gelyk toe die prop soos ’n pyl uit ’n boog losbrand en reguit op haar afpeil. Vir ’n oomblik was dit minder vonkelwyn en meer veldslag. Gelukkig was die mikpunt effens skeef - hoekom weet nugter alleen. Dalk, soos Zietsman self tong-in-die-kies erken, omdat sy op die gholfbaan só ’n swak setter is.
“Gelukkig was dit nie ’n kol- of doodskoot nie, maar eerder ’n geval van byna doodgeskrik,” vertel sy later laggend.
En die edelvog - wat ons streng gesproke nie sommer sjampanje mág noem nie - was uiteindelik ’n onverbeterlike lafenis wat die skok gou laat bedaar het.
Só het Zietsman haar 80ste met ’n knal ingelui - letterlik en figuurlik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’