MOSSELBAAI NUUS - 'n Eerste vir Hoërskool Punt asook Mosselbaai is die knipmesbraai wat op Vrydag, 17 Mei gehou is.
Die doel van hierdie funksie was om geld vir die skool in te samel, waarmee die voorportaal van die skool opgegradeer gaan word.
Een van die ander, bykans ewe belangrike oogmerke, was ook om die manne van die Mosselbaai-gemeenskap bymekaar te bring.
Die beplanning het reeds vroeg begin, aangesien die sukses sou bepaal of die funksie dalk 'n gereelde instelling sou kon word. Vierhonderd kaartjies is gedruk en moes aan die gemeenskap verkoop word.
Hoë kwaliteit knipmesse is bestel met Hoërskool Punt se skoolwapen op. 'n Goeie knipmes is immers enige man se trots.
Al 400 kaartjies is met gemak verkoop. 'n Heerlike voorgereg van biltong, cabanossi en 'n verskeidenheid van brode en smere is voorgesit.
Veertien skape is deur mnr Marais Pelser en Gustav Steinhöbel op die spit gebraai as hoofmaaltyd. Hierin kon die manne met oorgawe weglê deur hulle nuwe knipmesse te gebruik.
Die geleentheid was 'n reusesukses, volgens 'n Punt-woordvoerder, waartydens talle nuwe vriendskapsbande gesmee is.
"Daar is net weer tot die besef gekom dat die voortbestaan en sukses van 'n dorp by sy skole en die ondersteuning van die gemeenskap lê.
Gedurende die funksie het daar ook 'n veiling plaasgevind. Die manne van die gemeenskap het dit uiters goed ondersteun. Opregte dank word hiervoor uitgespreek teenoor elke man wat 'n kaartjie gekoop het en die funksie ondersteun het. Aan al ons borge wat eetgoed en pryse voorsien het wil ons baie dankie sê. Aan die manne van Mosselbaai - in 2020 gaan ons groot. Ons mikpunt is om 600 manne van die gemeenskap bymekaar te bring. Maak seker jy mis nie jou kaartjie en knipmes vir 2020 nie," sê die woordvoerder.
Die mans het heerlike lekkernye geniet.
Die spitte tydens die gaarmaak en voor die werk begin het.
Die spitte voor die werk begin het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'