MOSSELBAAI NUUS - Die Trans Agulhas Uitdaagvaart (TAU), allerweë beskou as die wêreld se taaiste wedvaart vir rubberbote, skop soos die gebruik weer af op 28 Desember wanneer die eerste skof op Hobie strand op Plettenbergbaai begin en 188.5km verder by Santos strand op Mosselbaai sal eindig.
Veertig bote durf vanjaar dié uitmergelende vaart aan, wat ná 658.5km op 31 Desember in die Strand eindig. Dit is die 36ste keer dat dié wedvaart plaasvind.
Die immergroen Wimpie Ackerman van Durbanville sal met Devon Henning as sy bemanningslid in die kleure van die hoofborg, Six Gun Grill, in aksie wees.
Ackerman sal as die huidige SA kampioen en ook as die huidige wêreldkampioen in aksie wees ná hy ook vroeër vanjaar in Februarie in Gqeberha dié titel by sy reeds lang lys indrukwekkende prestasies gevoeg het.
"En sommer so terloops het hy ook twee weke gelede in Blouberg die Koning van die Branders-titel gewen by ons mees onlangse Six Gun Grill-geleentheid," het TAU-organiseerder, Stefan Lindeque, gesê.
"Kom ons kyk of hy dié prestasie kan herhaal met die Ikoniese Mosselbaai Koning van Branders-kompetisie op Mosselbaai die middag van die 28ste."
Toeskouers langs die Suid- en Wes-Kaapse kus sal laat Desember weer eens die geleentheid hê om dié wêreldklas-spoedmeester in aksie te sien, saam met 'n groot groep ander veterane, wat ook Eben de Bod insluit.
Een van die nuwelinge vanjaar het byvoorbeeld 'n ander suksesverhaal om te vertel.
Brendon Groenewald is bekend in die gemengde gevegskuns-kringe (MMA) as dubbele goue medaljewenner in Brasiliaanse Jiu-Jitsu, wat hy by die beroepsproewe van die Afrika byeenkoms in 2011 verower het.
Hy het ook in 2012 'n silwermedalje by die Wêreldbyeenkoms in die Abu Dhabi verower en hy was die EFC-swaargewig wêreldkampioen in 2016.
"Brendon het gevoel hy wil nog 'n sport aandurf wat deelnemers tot die uiterste beproef. En dit is wat die Trans Agulhas aan jou bied en sy aandag getrek het," verduidelik Lindeque.
Groenewald neem deel saam met Joshua Smith - een van 12 groentjiespanne, wat dié wedvaart aandurf.
Broers Tyler en Dusty Day keer dié jaar terug vir hul tiende deelname, maar is selfs meer bekend vir ander prestasies, wat hulle in fietsry behaal het. Tyler het die Cape Town Cycle Tour (CTCT), voorheen bekend as die Argus, in 2011 gewen, terwyl Dusty goud verower het by die Race to the Sun in die kategorie vir veterane in 2023.
Verdere top plekke is deur Dusty by die 361 Endurance Challenge en verlede jaar se Swartberg Grand Fondo behaal.
"Afgesien van hul uitmuntende sporttalent, is die broers Day unieke karakters en altyd goeie geselskap vir die res van die spanne," sê Lindeque. Hy het ook bygevoeg dat die Trans Agulhas-veteraan Eben de Bod ook fyn dopgehou moet word.
Uitdaagvaart
Dié Uitdaagvaart word ook ondersteun deur Ikoniese Mosselbaai en verdien sy reputasie as die "wêreld se taaiste rubberboot-uitdaging". Vier aksiebelaaide wedvaartdae volg die afskop in Plettenbergbaai.
Die roete is oor dekades beproef en getoets, maar die een faktor, wat organiseerders nie kan beheer nie, is die weerstoestande.
"Vanjaar sluit ons vloot van veiligheidsbote drie groot vasteromp-bote in, wat beteken ons is oorgehaal vir enige gebeurlikheid. Kom wat wil!"
Lindeque sê die ekstra veiligheids-maatreëls sal verseker dat elkeen van die ses skofte op die water voltooi kan word terwyl dit ook sal verseker dat deelnemers se veiligheid nooit in die gedrang kom nie.
Die tweede skof oor 86km strek van Mosselbaai tot op Stilbaai waarna die derde skof oor 161km tussen Stilbaai en Struisbaai beslis word. Skofte vier tot ses vind op Oujaarsdag, 31 Desember, tussen Struisbaai en die Strand oor 'n enorme 223km.
Uilenkraalsmond en Gansbaai sal op dié roete aangedoen word.
Op Mosselbaai, Stilbaai en Struisbaai sal daar ook 'n Koning van die Branders-kompetisie plaasvind waar die deelnemers op 'n sirkelroete in die vlak branders groot vermaak aan die strandgangers sal verskaf.
Besoek www.trans-agulhas.com vir alle inligting oor dié 2024-Uitdaagvaart.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’