Die tweede gewapende roof het omstreeks drieuur gisteroggend plaasgevind, skaars ‘n klipgooi vanwaar die eerste slagoffers omstreeks dieselfde tyd Dinsdagoggend aangehou is.
Tydens gisteroggend se voorval is ‘n 43-jarige vrou deur drie mans met vuurwapens aangehou. Die verdagtes het met verskeie items wat skootrekenaars, selfone en ipads insluit, gevlug.
Kort hierna het polisielede leidrade opgevolg en die strande tussen Mosselbaai en Groot-Brakrivier gefynkam. Twee verdagtes is tydens die operasie gearresteer.
Volgens die woordvoerder van die polisiestasie, sersant Chantel Marais, word die verdagtes moontlik met die eerste gewapende roof waartydens ‘n bejaarde egpaar wreed aangerand is, verbind. Hulle bly in aanhouding.
Die egpaar word steeds in ‘n plaaslike hospitaal in Mosselbaai vir hulle beserings behandel.