MOSSELBAAI NUUS - Die KwaNonqaba-polisie het twee dossiere vir geregtelike doodsondersoeke geopen ná voorvalle by die Pinnacle Point-landgoed.
In die eerste voorval op 23 Desember het 'n tweejarige kind vermoedelik verdrink by 'n privaat woning. Na wat verneem word, het die gesin van Mosselbaai by die swembad ontspan.
Die peuter is in die sorg van 'n oppasser gelaat terwyl die ouers gaan stort het.
Die oppasser het die kind na 'n kamer geneem om af te droog. Oomblikke later het oppasser en ouers egter na die kind begin soek. Die kind is in die swembad aangetref en is by aankoms by die Life Bay View Hospitaal dood verklaar.
In 'n afsonderlike voorval het 'n 56-jarige man na bewering op 27 Desember sy eie lewe by sy huis in dieselfde landgoed geneem. Sover dusver vasgestel kon word, is geen notas agtergelaat nie.
Die man se naasbestaandes is van Pretoria en is volgens die woordvoerder van die KwaNonqaba-polisie. sers Kapp intussen van sy dood in kennis gestel. Die ondersoekbeampte is sersant Ndala.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'