Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - ‘n Graad 5 leerder van Laerskool Hartenbos is vanoggend Woensdag, 3 Januarie, breindood verklaar na ‘n kort siekbed.
Trishan Maya (11) het twee dae gelede begin kla van hoofpyn en oorpyn. Sy ouma Remona Maya het aan Mossel Bay Advertiser gesê dat Trishan Maandag, 1 Januarie, begin kla het van 'n steekpyn in sy oor.
“Dit het so erg geraak dat hy met die ambulans later na Mosselbaai Provinsiale Hospitaal geneem is,” vertel sy.
Hy is kort daarna oorgeplaas na George Hospitaal waar hy tans nog in ‘n geïnduseerde koma is, maar is reeds gister Dinsdag, 2 Januarie, breindood verklaar.
Volgens sy oom, André Maya, word daar tans vir 'n pastoor gewag voor die masjiene, wat 'n 11-jarige seun aan die lewe hou, afgeskakel gaan word.
Volgens sy ouma het die dokter gesê die infeksie in die oor het na die brein versprei en het die dokter dit gediagnoseer as breinvliesontsteking.
Trishan Maya (11)
Skoolhoof Werner van Huyssteen het op sosiale media gesê: “Ons dink met simpatie en liefde aan sy familie, spesifiek sy ouma Remona. Bid asseblief vir krag vir hulle in hierdie moeilike tyd.”
Trishan was ‘n kranige rugbyspeler wat vir sy skool se o/11A-span losskakel gespeel het tydens die 2023 seisoen. Hy was ‘n baie talentvolle jong seun wat akademies ook bo-gemiddeld presteer het.
Van Huyssteen beskryf hom as ‘n netjiese seun met baie goeie maniere, groot liefde vir rugby en sou definitief in die toekoms uitgestyg het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’