MOSSELBAAI NUUS - Op Maandag, 4 April het al Hoërskool Punt se Skipskop-hoofkarakters vroegoggend reeds bymekaar gekom vir ‘n lywige oefening, sommer so op 'n skoolvakansiedag.
Daar is hard geoefen maar ook lekker gelag. Groot was die opwinding toe die fenominale akteur, Wilhelm van der Walt sy kennis, ervaring en raad met die leerders kom deel het.
Wilhelm is bekend vir sy rol as Ty Prinsloo in die sepie, 7de Laan maar ook vir films soos Mannetjies Roux en Projek Dina.
En wie kan sy onvergeetlike toneelspel in Boland Moorde en Fynskrif vergeet? Meer onlangs was hy te sien by die KKNK in Ek, Anna van Wyk wat met 10 Kannas benoem is. Wilhelm is ook benoem as beste byspeler – voorwaar iets om op trots te wees. Wat ‘n voorreg om by die beste van die bestes te kon leer.
Leerders kon by hom kers opsteek en meer leer oor die verhoog, stemproduksie en toneelspel.
Hy het met ‘n paar vars idees na vore gekom wat defnitief aangewend gaan word in Punt se Skipskop, wat einde Mei op die planke sal wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'