MOSSELBAAI NUUS - Wonings op Groot-Brakrivier loop deur onder huisbrake sedert die vakansieseisoen begin het.
Die polisiewoordvoerder, sers Chantel Marais sê hoewel vakansiegangers en ook inwoners dikwels dink dat daar nie misdaad aan die Tuinroete is nie, dit noodsaaklik is om te weet dat elkeen deur misdaad geraak kan word.
"Geen voorsorgmaatreëls is 'n waarborg dat u 'n slagoffer kan wees."
Die polisie op Groot-Brakrivier, asook die Midbrak-buurtwag doen 'n beroep op inwoners om polisieklarings te laat doen op alle persone wat aangestel word as tuiniers of huiswerkers.
Polisieklarings kan gedoen word by die naaste polisiekantoor teen R65.
"Bekom identiteitsdokumente, foto's en adresse tydens aanstelling. Hierdie belangrike inligting en dokumentasie kan die polisie van groot hulp wees wanneer kriminele sake aanhangig gemaak word."
Meneer Jacques Radley van die Midbrak-buurtwag vermaan die publiek om paraat te wees in alle opsigte en die SAPD of Midbrak-buurtwag te kontak indien verdagte persone of voertuie opgemerk word.
Basiese veiligheidsmaatreëls
• Maak seker dat jou woning veilig en gesluit is.
• Indien jou sleutels wegraak, vervang die slotte en kry nuwe sleutels.
• Sorg vir goeie beligting rondom u woning.
• Ken jou bure. Ruil foonnommers uit en hou 'n ogie oor mekaar se wonings.
• Kontak die SAPD, bnuurtwag of gebruik u alarm knoppie wanneer u onraad vermoed.
• Sorg vir genoegsame sekuriteit, diefwering, veiligheidshekke, alarmstelsel, omheining.
• Ken alle noodnommers. Leer ook u kinders om die nommers te bel.
• Moet nooit sleutels in deure laat nie.
• Indien daar by u woning ingebreek word, vervang onmiddelik die slotte.
• Installeer slotte by skuifdeure.
• Sorg dat u gordyne saans toegetrek word.
• Moenie tuingereedskap buite laat rond lê nie. Dit is gereedskap wat vir inbrake gebruik kan word.
• Moenie waardevolle items in die huis laat rondlê nie.
• Beloon jou werknemers vir bruikbare inligting wat misdaad kan voorkom.
Kontak die polisie op Groot-Brakrivier (044 620 3361) of Midbrak-buurtwag (076 666 8934).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'