MOSSELBAAI NUUS - Met die Covid-19-virus op almal se lippe en juis die feit dat skole vroeër gesluit en langer sal toe bly vanweë die nasionale ramptoestand, het die Mossel Bay Advertiser vrae van lesers ontvang aangaande wat by die dorp se waterparke gebeur.
Hartenbos
"Die Hartenbos Waterpark is oop en wag vir die inwoners en besoekers om die heerlike sonskyn en pret te kom geniet," het 'n woordvoerder van die ATKV by navraag gesê.
Volgens die bestuur, sal die verhitte binnenshuise swembad ook weer teen die naweek oop wees na 'n brand wat verlede maand in die dak ontstaan het.
"Ons staan nie onverskillig teenoor die huidige situasie nie, maar die lewe moet voortgaan – so ook besigheid," lui die ATKV se verklaring. Wat die Hartenbos Seefront betref, lui die verklaring dat al die openbare geriewe by die sentrum met antibakteriese vloeibare seep of skuim en die personeel met handskoene toegerus is.
Mornay Beukes, oordbestuurder van die ATKV Hartenbos het gesê dat hoewel die oord kansellasies kry, daar net soveel navrae is van kliënte om hulle verblyf te verleng, aangesien die skoolvakansie langer is.
"In hierdie stadium probeer ons eerder om die kliënte wat wil kanselleer te oorreed om hul vakansie of wegbreek later in die jaar te neem.
ATKV-Hartenbos gaan egter normaal voort met al ons bedrywighede. Ons personeel is ingelig en paraat om voorkomend op te tree en om te sien na ons kliënte se gesondheid en veiligheid. Ons vermaakprogram is aangepas om nie meer as 100 mense op 'n slag bymekaar te hê nie en is ons vol vertrou dat alles goed sal verloop.
Diaz Waterpark
Dirk Steyn, eienaar van die Diaz Waterpark sê dat hy ekstra personeel aangestel het om te help met verskerpte maatreëls op die perseel.
"Dit is baie moeilik om getalle te beheer in die buitelugarea, maar dit is 'n groot area en daar is baie verskillende uitgange is. In die verhitte swembad, gaan ons die getalle beheer tot op die voorgeskrewe 100 mense."
Steyn sê hy besef dat mense se kommer waarskynlik die gebruik van rekkies is waarmee die publiek die verskillende fasiliteite gebruik. "Rekkies sal eers behoorlik gesaniteer word voor dit hersirkuleer word aan nuwe gebruikers."
Steyn het gesê dat hy beslis die situasie deeglik sal monitor soos dit ontvou en dan daarby sal aanpas.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'