MOSSELBAAI NUUS - Vuurwerke, en nie klappers nie, kan net deur goedgekeurde handelaars verkoop word. Streng regulasies geld vir die afvuur van vuurwerke, hoewel geen voorskrifte bestaan vir die gebruik van klappers nie.
Mosselbaai-munisipaliteit wys daarop dat permitte vir die verkoop van vuurwerke deur die SA Polisie, en nie die munisipaliteit nie, uitgereik word.
Alvorens die voorgeskrewe permitte uitgereik word, word aansoeke deur die polisie se plofstofeenheid ondersoek en goedgekeur.
Die munisipaliteit het daarom geen inspraak in die toekenning van permitte vir die verkoop van vuurwerke nie. Sover vasgestel kon word, kan net drie besighede wettig vuurwerke in Mosselbaai verkoop.
Klappers
"Klappers (dit wat bloot net geraas maak) kan egter deur enige besigheid verkoop word. Dit mag ook deur enige persoon op enige plek gebruik word.
Sou dit 'n geraassteurnis veroorsaak, moet die klaer 'n klag ten opsigte van die geraas aanhangig maak," adviseer die woordvoerder van die Mosselbaai-munisipaliteit, Colin Puren.
Onwettig
"Dit is onwettig om vuurwerke af te vuur sonder die nodige amptelike goedkeuring van die munisipaliteit. Die relevante aansoek moet deur die Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste oorweeg word vir goedkeuring," aldus Puren.
Die munisipale verordening vir die beheer van vuurwerke is daarop gerig om die afvuur van vuurwerke te reguleer en maak voorsiening dat by ontvangs van 'n aansoek vir die afvuur van vuurwerke, die munisipaliteit die aansoek kan oorweeg en goedkeuring mag verleen onderworpe aan voorwaardes wat bepaal mag word.
Dit is wel 'n oortreding indien enige persoon sonder die nodige goedkeuring vuurwerke afvuur buite die ooreengekome gebied wat ten tye van die aansoek deur die munisipaliteit goedgekeur is.
Munisipale wetstoepas-singsbeamptes hanteer alle klagtes oor vuurwerke wat ontvang word, veral tydens die feesseisoen, maar inwoners en besoekers moet daarop let dat 'n klagte by die polisie aanhangig gemaak en 'n beëdigde verklaring afgelê moet word sodat die wet sy verloop mag neem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'