MOSSELBAAI NUUS - In die laaste van hul Mandeladag-uitreikprojekte het die Mosselbaai-munisipaliteit se direktoraat van gemeenskapsdienste op Vrydag, 28 Julie, moue opgerol om tuinwerk in Mpelastraat, KwaNonqaba te doen.
Hier lê die Vuka Vuka-tuin. Dié tuin is in 2010 in 'n oop ruimte gevestig waar onwettige storting gedoen is.
Wyle Midas Xelelo en Ester Sibawu, wat op 77 steeds daagliks, Maandag tot Vrydag, in die tuin werk, is vir die tuin se totstandkoming verantwoordelik.
Tydens Vrydag se uitreik het personeellede van die departement vir vroeë kinderontwikkeling (direktoraat gemeenskapsdienste), kragte saamgespan met The Haven-nagskuiling en hand bygesit in Vuka Vuka-tuin om onkruid uit te roei.
Hierdie nuut voorbereide bedding-gebiede is nou gereed vir die nuwe plantseisoen. Die direktoraat gemeenskapsdienste ondersteun die tuin deur saad te verskaf. Die groente en kruie wat gekweek word, word aan behoeftiges gegee en ook aan sentrums van vroeë kinderontwikkeling in die omgewing geskenk.
Die Vuka Vuka-tuiniers wat saam met Ester werk, is Sylvia Saku, Caroline Magqeleba en Goliath Mahasan, wat twee keer per week by die vroue aansluit. Uie, spinasie, wortels, kool, patats, kruie en pragtige blomme groei in die tuin.
Die Vuka-Vuka-tuiniers saam met amptenare van die Mosselbaai-munisipaliteit se direktoraat gemeenskapsdienste en verteenwoordigers van The Haven-nagskuiling.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’