Hierdie twee kankeroorwinnaars het hulle terugbaklei weereens bewys en hulle verhale van hoop gedeel tydens die Cancer.vive-motorfietstoer, wat vanaf 22-29 September plaasgevind het.
"Die toer was nie maklik nie, want ons het dit begin met 'n begrafnis," vertel Amy. Een van hulle vorige motorfiets-kamerade, Sanette Venter, het haar stryd teen kanker verloor. Magda vertel weer hoe hulle op pad terug na Malelane van Komatipoort af, hulle roete moes aanpas vanwee die landswye loonstakings en deur die Selati-suikerplantasie geneem is.
"Dit was 19km stamperige grondpad, met honde, katte en wie weet wat nog, wat sommerso skielik in die stofwolke voor jou verskyn," lag Magda op haar kenmerkende manier. Vir die Triumph-motorfietse wat hulle tydens die toer gebuik het, het hierdie twee gesoute motorfietsryers egter net lof.
"Daar was 'n paar 'girls' saam op die 'trip' wat maar maklik 'briek' trek, maar die toer was sonder insidente en ons kan nie eens kla van een seer spier na al die kilometers nie," vertel Amy, wat op 'n 1700cc-fiets die toer voltooi het.
Die motorfietse is natuurlik altyd oral waar hulle gaan, 'n groot trekpleister. "Mense vra baie keer hoekom ons nou juis 'n spul vrouens (en enkele mans) op motorfietse is en een van die verduidelikings is, dat jy iets moet doen wat vir jou 'n groter uitdaging is as jou stryd teen kanker," verduidelik Magda.
Beide vroue sê dat hulle besoek aan die onkologie-afdeling van die Tshwane Distrikshospitaal, veral die kinderafdeling, 'n baie intense belewenis was.
"Ek kan nie diere, kinders of oumense sien ly nie," sê Magda. Amy vertel van 'n dogtertjie met die naam Pumi, wat sy sedertdien in haar hart saamdra. "Sy is al meer as 'n jaar in die hospitaal en ken al die dokters se name. Toe ek haar vra wat haar droom is, sê sy: 'To walk out of here and become a doctor' – net so, met oortuiging."
Dis ook hier waar die bekende danser en choreograaf John Sithole buite in die hospitaal se tuin met die kinders sokker gespeel het. "Toe ek uitstap en dié normale prentjie sien, het dit soveel vrede in my gemoed gebring," sê Magda.
In dieselfde hospitaal se mansafdeling het Magda vir Pompies raakgeloop.
Oomblikke voor die Cancer.vive-span die saal binnegestap het, was Pompies, 'n diep gelowige man in sy twintigs, besig om te bid en het hy God gevra om aan hom die pad vorentoe deur sy kankerstryd aan te dui. Na 'n gesprek met Magda en Themba Matrose, wat, soos hy, ook die pad van testikulêre kanker moes loop, het Pompies sy baklei teruggekry.
Beide vroue beklemtoon die waarde van mense soos Janie du Plessis en Lillian Dube of Mama Lillian, soos sy verkies om genoem te word, se rol tydens die toer. Internasionale sangeres Myra Maud se impak was merkbaar en blykbaar was die toer vir haar ewenwel 'n bevestiging dat sy haarself tot die regte saak in die regte land verbind het.
"Kortweg opgesom, was daar vir my so 'n wonderlike balans tussen die trauma en die oplewing gedurende die toer, sê Magda. Amy knik instemmend en voor ons groet, gesels hulle alweer oor die volgende projek.
Vir meer inligting, foto's en verhale van hoop, besoek www.cancervive.co.za.

Amy Jansen saam met van die kankerpasiëntjies by die Tshwane Distrikshospitaal. "Ek het 'n passie vir kinders."
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS