OUDTSHOORN NUUS - Die digter en skrywer, Hannes Visser, redakteur van Oudtshoorn Courant, se aangrypende gedig, Vir Piet Visser, is gisteraand uit meer as 3 000 Afrikaanse inskrywings met die derde plek beloon in die pas afgelope 2020 Avbob-poësiekompetisie.
In die siftingsproses verlede jaar is slegs 3600 van die 30 573 inskrywings in al 11 landstale deur 5 807 digters goedgekeur vir deelname.
Digters mag oor 'n tydperk van vier maande 20 inskrywings instuur vir oorweging.
Visser het 13 gedigte voorgelê waarvan 11 aanvaar is, 'n groot pluimpie op sigself, aangesien slegs sowat 10% van die Afrikaanse inskrywings dit tot by die beoordelingsproses gemaak het.
Die wenners is gisteraand, 6 Augustus, tydens 'n virtuele gala-geleentheid bekend gemaak. In Afrikaans was Maretha Maartens eerste met Peperboom, Maritha Broschk se Swanesang tweede en ‘n gedig wat Visser verlede jaar op sy eie verjaarsdag vir sy pa geskryf het, Vir Piet Visser (21.7.1925 – 19.7.1967), derde.
Avbob het in 2017 dié veeltalige digkunskompetisie, die grootste van sy soort in die wêreld, geloods en inskrywings in al elf nasionale tale word ontvang.
Gedigte word gekeur en dié wat kwalifiseer word op Avbob se webtuiste, Avbob Poetry Project, gepubliseer.
Visser het verlede jaar na sy verskyning op die TV-program Ek wou nog sê… verwys na die oplewing in die Suid-Afrikaanse digkuns. Maar, volgens hom, is dit nie net goed nie.
“Die nadeel is dat gedigte teen die spoed van lig op Facebook uitgespoeg word sonder enige redaksionele versorging. Die Avbob-projek is ’n puik platform waar gedigte deur ’n keuringsproses gaan wat sorg dat dit wat op die web geplaas word, kwaliteit is. Ons almal lees poësie om persoonlike redes. Vir mý lê die waarde van digkuns daarin dat die leser met die minimum woorde ’n volledige prentjie kry – dit stimuleer die verbeelding en bied nie alles op ’n skinkbord nie. Om na ’n program soos Ek wou nog sê… te kyk, voeg ’n derde dimensie by die poësie - daar is die woorde op die blad, die klank in die ore en nou ook die visuele waar die kyker die digter kan sien.”
Visser, 'n voormalige onderwyser, het sy gedigte in 2009 vir die eerste keer saam met elf ander digters gepubliseer in die bundel, Boksemdais 2. Daarna verskyn sewe van sy gedigte in 2017 in Nuwe Stemme 6, uitgegee deur NB Uitgewers. Hy het al verskeie pryse by die Bloemfonteinse skrywersvereniging se landwye kompetisies gewen. In 2013 het hy eersteprys in die kortverhaalafdeling gewen, sowel as tweedeprys in die poësie-afdeling. In 2017 wen hy tweedeprys in die prosa-afdeling vir kortverhale, en in 2018 verower hy die eersteprys in die poësie-afdeling in dieselfde landwye kompetisie.
Sy digbundel Die jaar toe pa, wat in 2019 deur Naledi uitgegee is, is wyd geloof en verskeie TV-, koerant- en tydskrifonderhoude het gevolg.
Visser bied werksessies in kreatiewe skryfwerk en digkuns aan. Hy is ook 'n geakkrediteerde lewensaftrigter en neuro-linguistiese programmering (NLP) -praktisyn. Hy tree op as motiveringspreker, doen voorlesings asook gesprekke wat soms gepaardgaan met musiek deur die Oudtshoorn-musikant, Marisca Rain.
Lees gerus die resensies van Die jaar toe pa... op Litnet, Versindaba en Woorde wat Weeg deur Joan Hambidge. Koos Kombuis het in sy resensie van Die jaar toe pa… mense uitgedaag om die bundel te lees sonder om angsaanvalle te kry.
Vir Piet Visser (21.7.1925 – 19.7.1967)
pa, ek verjaar vandag, twee en sestig jaar nadat
jy my geboortehuis in curriestraat gekoop het
en twee en vyftig jaar nadat hulle jou daardie
Woensdagnag op ’n wit trollie uitgehaas het
ek het nog een foto van die huis met sy bont
stoeptralies en hekke van gekrulde yster wat jy
oor naweke op die myn gesweis het, maar die
swart en wit versteek die helder kleure van toe
ek kan bladsye vol gedigte skryf oor jou, maar
sukkel my dood om te onthou hoe jy lyk, want ma
het mos met haar tweede keer in die waan van trou
teatraal een Saterdag vuur gemaak met alles van jou
ja, ek verjaar vandag twee en vyftig jaar nadat jy
by jou stoeptralies en ysterhekke verby en onder
flitsende rooi ligte onomkeerbaar verdwyn het en
elke jaar is daar meer en meer wat ek jou nog wou vra
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'