MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van Hartenbos, JP Smith, het Sondag, 22 Augustus saam met vriende en familie op die wandelpad langs die see by Hartenbos gaan stap toe hulle aanskou het hoe 'n seestroom twee seuns op boogie-borde dieper die see inneem.
Volgens Smith het die seuns na 'n tyd om hulp begin skree. 'n Vriendin wat saam met hulle gestap het, het dadelik die NSRI geskakel.
"Die een seun het na 'n rukkie sy bord gelos en na die kant begin swem. Genadiglik het hy dit gemaak terwyl die ander seun dieper indryf het," vertel Smith.
Hy vertel verder dat 'n man dapper tot by die seun geswem het om hom rustig te hou.
"In daardie stadium kon ons die NSRI se boot sien aankom. Dit was seker so tussen 10 tot 15 minute vanaf die oproep gemaak is," sê hy. Smith vertel dat dit vir hulle regtig erg was om so iets te aanskou en sê hy mens is eintlik hulpeloos.
"Nadat die NSRI die seun opgepik het, was dit vir beide die seun en die redders 'n baie emosionele asook 'n vreugdevolle oomblik. Dit het my net laat besef watter ongelooflike werk dié organisasie doen. Die spoed waarmee hulle reageer het was regtig prysenswaardig. Mag die Here jul werk seën," sê Smith.
André Fraser, stasiehoof van die NSRI stasie 15 op Mosselbaai het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat 'n 14-jarige seun van Kaapstad deur drie NSRI-bemanningslede met die 6,5m St Blaize-reddingsboot te hulp gesnel is. Die drie lede was besig met praktiese oefening by die seilbootklub toe hulle die oproep ontvang. Hulle het die seun sowat 200m vanaf die strand opgepik.
Noodnommers
Lede van die publiek word aangemoedig om ingeval van so 'n noodsituasie die nodige noodnommers byderhand te hou. Elke minuut kan die verskil tussen lewe en dood beteken.
Die nasionale noodnommer is 112. Die nasionale NSRI noodnommer is 087 094 9774 en die NSRI stasie 15 Mosselbaai se noodnommer is 082 990 5954.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'