MOSSELBAAI NUUS - Die 40-jarige inwoner van Hartensee kompleks op Hartenbos wat beweer het dat sy op 21 November by haar woning in die kompleks verkrag is, het die hele voorval gefabriseer.
Die vrou het beweer dat sy besig was om wasgoed op te hang, toe 'n onbekende man haar oorval het.
Sy het verskeie beserings oor haar lyf opgedoen, wat sy na wat verneem word, self toegedien het.
Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskermings en seksuele misdrywe het die saak ondersoek. 'n Bloed-en-semen-polisiehond van Oudtshoorn is na die toneel ontbied en die polisie het 'n gesigsamestelling van die sogenaamde verkragter saamgestel. 'n Soektog is na die verdagte wat deur die vrou beskryf is as blank, met bruin oë, blonde hare en 'n skerp ken, van stapel gestuur. Sy het aan die polisie 'n beskrywing van die man gegee en gesê hy was geklee in 'n donkerblou T-hemp, denimbroek en 'n donkerblou pet waarop daar in wit geskryf is. Die vrou het vroeër ook 'n saak by die Da Gamaskop-polisie aanhangig gemaak waarin sy beweer het dat sy deur 'n onbekende man geteister word. Sy het na wat verneem word self die briewe waarin sy en haar gesin gedreig word, geskryf.
Inwoners geskok
Inwoners het op die betrokke dag met skok op die nuus gereageer nadat die Mossel Bay Advertiser dit op facebook bekend gemaak het en 'n versoek aan inwoners gerig het om op die uitkyk vir die sogenaamde verdagte te wees.
Die eerste artikel hieroor is deur 472 lesers op sosiale media gedeel en bykans 86 mense het daarop kommentaar gelewer.
Intussen het die Hartensee-kompleks se bestuur met afgryse gereageer nadat die Advertiser dit aan hulle bekend gemaak het dat daar inderdaad glad nie so 'n voorval was nie. Die vrou en haar gesin woon reeds die afgelope vier jaar in die kompleks en huur 'n woning. In 'n verklaring stel die bestuur dit duidelik dat die Hartensee-kompleks, 'n veilige kompleks is. "In 15 jaar was daar geen voorvalle van inbrake of misdaad in die kompleks nie. Die bewering van 'n verkragting in die kompleks was vir almal 'n groot skok. Vroue wat alleen woon was bang en inwoners het nie meer veilig gevoel nie. Almal was verbouereerd. Daar sal 'n vergadering gehou word waarna besluit sal word tot watter mate daar teen die betrokke persoon opgetree sal word."
Die vrou was teen druktyd na bewering in 'n hospitaal, maar dit was nie duidelik waarvoor sy opgeneem is nie. Sy het in 'n verklaring aan die polisie erken dat sy oor die voorval gejok het. Die polisie het 'n dossier geopen en die vrou staar aanklagte van onder meer meineed en regsverydeling in die gesig.
Sy sal in hegtenis geneem word op dié aanklagte.
Lees vorige artikels:
- Vrou jok oor verkragting
- Vrou wat verkrag word glo geruime tyd bekruip
- Verkragting in Hartenbos ondersoek
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'