MOSSELBAAI NUUS - Groot reaksie is ontlok onder diereliefhebbers en die gemeenskap in die algemeen ná berigte van die verdwyning van 'n perd uit die stalle waar hy in Aalwyndal gehou word.
Eienaars van Dario het hom as vermis aangemeld op 23 Desember. Daar is vermoed dat hy moontlik deur kwaaijongens gesteel kon gewees het.
Ook die Mossel Bay Advertiser het 'n kennisgewing aanlyn geplaas dat daar na Dario gesoek word.
By navraag, het Dario se eienaar, wat verkies om anoniem te bly gesê dat hulle die perd vroegoggend op 26 Desember in 'n verlate kamp in Aalwyndal opgespoor het.
"Hy was angstig en gedehidreer. Hy was in 'n toe kamp waaruit hy nie self sou kon wegkom nie," het sy verligte eienaar aan die Advertiser gesê.
Sy vemoed steeds dat iemand die perd wederregtelik uit die stalle geneem het. "Die polisie is betrokke, maar die stalle het alles verder hanteer."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'