Die man, wat sedert ongeveer Meimaand sy intrek in die woning geneem het, het na bewering die inwoners te alle ure verpes met luide aanmerkings, hulle gedreig en selfs klippe na voertuie binne die kompleks, asook verbygaande voertuie op Louis Fourieweg geslinger.
Aldus Ao Tommie Kleynhans, die Sektor-bevelvoerder van die SAPD Da Gamaskop, in wie se bestuursarea Hartenbos val, is daar oor 'n tydperk van 'n paar maande verskeie klagtes ontvang rakende toestande op dié perseel, gedeelte 113 van die plaas Vyfbrakkefontein, Fonteinen No 220, wat tans aan 'n trust behoort. Volgens Ao Kleynhans, wat gemoeid is met die buurtwag in dié area en al 'n geruime tyd betrokke is met navrae rakende die perseel, is 'n huisbreker ook al op die perseel gearresteer en het 'n plakkerpaar ook vir 'n ruk in van die ander buitegeboue op die perseel tuisgegaan.
By nadere ondersoek, is bevind dat krag onwettig krag aangelê is na die woning, maar die praktyk is intussen stopgesit. Daar is ook geen vullisverwydering op die perseel nie en die opeenhoping van droë takke en tuinvullis kan moontlik 'n brandgevaar skep.
Die vermeende plakker het egter intussen die perseel verlaat, nadat 'n vrou, na wie se voertuig hy blykbaar 'n klip geslinger het, 'n klag van saakbeskadiging aanhangig gemaak het. Die plakkerpaar wat die buitegeboue beset het, het ook die loop geneem, maar stapels klere wat hulle vermoedelik as skenkings vanuit die gemeenskap verkry het, is agtergelaat.
By navraag van die Mossel Bay Advertiser, het die munisipale woordvoerder, Harry Hill bevestig dat die die munisipaliteit op 8 November 'n hofbevel ontvang waarvolgens die eienaar van die perseel voor of op 15 Maart 2014 tot die bevrediging van die munisipaliteit, of in die alternatief, die geboue sloop en alle bourommel verwyder. Aansoek om sodanige bevel word eers gedoen nadat die eienaar nie aan vroeëre munisipale kennisgewings voldoen het nie. Indien die eienaar nie aan enige van die vereistes voldoen nie, sal die Balju of sy / haar gevolmagtigde die geboue sloop.
Volgens mnr Hill sal die kwessie van die beweerde brandgevaar vandag op die agenda vir Vrydag se Dienstemoniteringskomitee geplaas word.
Ao Tommie Kleynhans van die SAPD Da Gamaskop wys na die opgehoopte tuinvullis op gedeelte 113 van die plaas Vyfbrakkefontein, Fonteinen No 220, waar verskeie vervalle geboue staan. Plakkers het hier vir etlike maande al die naburige woonstelkompleks se inwoners verpes. Foto's: Cornelle Carstens
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'