MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit sal streng optree teen inwoners wat hul bure teister met onaanvaarbare gedrag wat landswette en munisipale verordeninge verontagsaam of minag.
Dít is die boodskap van die uitvoerende bestuurder, strategiese dienste, mnr Colin Puren en die munisipale wetstoepassingsafdeling wat onlangs, na aanleiding van klagtes, opgetree het teen inwoners wat hul aan onaanvaarbare optrede teenoor bure skuldig gemaak het.
"Mosselbaai-munisipaliteit se wetstoepassers se werksure is na 24 uur per dag, sewe dae per week uitgebrei. Die wetstoepassers, gerugsteun deur die munisipalehof, sal verseker dat munisipale verordeninge, onder meer die onwettige afvuur van vuurwapens in 'n woongebied, nagekom word," berig Puren. Hy maan ook inwoners om ander se regte in ag te neem. "Dit is onaanvaarbaar dat in munisipale groenstroke jag gemaak word op die natuurlewe wat daar voorkom, hetsy met wapens of nie. Dit is ewe onaanvaarbaar dat inwoners op troeteldiere skiet of jag maak. Voorvalle is gerapporteer waar veeartse onlangs nog weer troeteldiere vir windbukskoeëlwonde moes behandel." Puren versoek inwoners om ook te verseker dat hul troeteldiere nie sonder toesig en sonder leibande in die strate rondloop en vir ander 'n oorlas word nie.
Daar is benewens die munisipale verkeersbeamptes, ook munisipale wetstoepassers wat spesifiek omsien na die nakoming van munisipale verordeninge. Wetstoepassers werk baie nou saam met ander wetstoepassers, onder meer die SA Polisie, die gemeenskapspolisieforum (GPF) en die onderskeie buurtwagte wat op hul beurt oortredings van die strafproseswet ondersoek en opvolg.
Boulyn-oorskreidings
Munisipale-wetstoepassers het onlangs onder meer vermeende oortreders van munisipale verordeninge, wat ook boulyn-oorskreidings en ander munisipale regulasies ingesluit het, in areas soos Danabaai besoek om nakoming te verseker en, waar nodig, af te dwing. Wetstoepassers werk baie nou saam met ander afdelings in die munisipaliteit.
"Die munisipaliteit doen 'n vriendelike versoek op inwoners om probleme op skrif, verkieslik in die vorm van 'n beëdigde verklaring aan die munisipaliteit te stuur by admin@mosselbay.gov.za.
Mosselbaai-munisipaliteit roem daarop dat diens by uitnemendheid die norm is wat nagestreef word en vra daarom die gemeenskap om 'n ingesteldheid van goeie buurskap en ordelike naasbestaan na te streef. Soms is 'n gemoedelike gesprek tussen bure al wat nodig is om konflik te ontlont, maar wanneer goeie buurskap nie die gewenste resultaat lewer nie, sal die munisipaliteit nie huiwer om die letter van die wet toe te pas nie.
Mosselbaai is een van weinig plaaslike owerhede wat oor 'n goed funksionerende munisipale hof beskik en sal nie skroom om oortreders in geregverdigde gevalle voor die hof te daag nie."
"Die munisipaliteit doen dus 'n beroep op inwoners om die leefomgewing van woongebiede te respekteer, nie op ander se regte en voorregte te oortree nie, en om in belang van vrede en voorspoed goeie buurskap na te streef."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'