MOSSELBAAI NUUS - Hy het van kleins af geleer dat 'n mens moet werk vir dit wat jy graag wil bereik.
Só vertel Mosselbaaier Johnwin Cameron, 'n onderwysstudent wat studies in chemiese ingenieurswese en 'n volle beurs om vir 'n geoktrooieerde rekenmeester te studeer, die rug gekeer het omdat "hy 'n verskil wil maak".
Tans studeer hy aan die Universiteit van Noordwes, met wiskunde en wetenskap as sy spesialisvakke. Johnwin, wat in Aslapark in nederige omstandighede groot geword het, was in 2015 Hoërskool Sao Bras se dux-leerder.
Twee dae nadat hy sy matriek-eindeksamenpunte ontvang het, moes hy vir sy studies op Potchefstroom aanmeld.
Na 'n jaar van studie in chemiese ingenieurswese, kom hy vir die vakansie huis toe. "Ek het teruggegaan na my ou laerskool, Garden Route Primary. Daardie week het my hele uitkyk op die lewe verander toe ek vir 'n graad 2-seuntjie vra wat hy eendag wil doen. Terwyl ander belangrike beroepe gekies het, het hy bloot gesê 'ek wil eendag 'n verskil maak'. Van daardie dag af was my visie vir die toekoms nooit weer dieselfde nie."
'n Nuwe droom
Hy droom sedertdien daarvan om in die gemeenskap terug te ploeg. "Ek wil leerders in Mosselbaai en omgewing help om by universiteite in te kom. Daar is baie leerders met soveel potensiaal, maar hulle weet nie waar om daarmee heen te gaan nie. Sommige laat toe dat hulle omstandighede hulle definieer."
Hy nooi enige leerder wat meer oor naskoolse studie wil weet om hom te kontak.
Só het ander Johnwin ook die pad gewys. "Raadslid Boere (Niklaas Booisen) het my kom sien oor my toekomsplanne. Hy het my altyd bemoedig as ek wou tou opgooi en my pep talks gegee. Nog iemand wat ek moet bedank is Francios Swanepoel. Hy het my by Pukke help inkom."
Uitdagings
Die Covid-19-pandemie was vir Johnwin 'n uitdaging. "Ek het nie altyd geweet of ek kom of gaan nie. Gedurende die pandemie het ek vir my 'n werk aangeskaf om ekstra inkomste te verdien. En dis hier waar my fokus en dissipline getoets is."
Na 'n werksdag, was hy nie lus om nog te swot ook nie. "Boonop het ek merkwerk ook vanaf die universiteit ontvang. Maar die Man van Bo het my gefokus gehou." Dit is die één ding wat hy beklemtoon. "Sonder Jesus Christus was ek nie waar ek vandag is nie. Daar is 'n liedjie wat sê 'ken hom in al jou weë en hy sal jou paaie gelyk maak'." Uitdagings ten spyt, het hy nietemin ses onderskeidings in sy onlangse eksamen verwerf.
Opvoedershart
Johnwin het reeds die hart van 'n opvoeder en besef dat veral matrieks vanweë die ontwrigting wat Covid-19 meegebring het, swaar trek. "Matrieks is onseker oor hulle toekomsplanne. Al wat ek kan sê is, bly gefokus. En bid."
Dan op 'n meer praktiese noot, sê hy, drink genoeg water en elimineer alle vorme van stres uit jou lewe.
"Vat dinge een dag op 'n slag. Glo in jouself, jou vermoëns en die harde werk wat jy ingesit het. Die lewe is wreed daarbuite, maar met die Man van Bo aan jou sy, kan jy enigiets aanpak."
Johnwin wil sy meerstergraad in onderwys verwerf en daarna deeltyds sy studies in ingenieurswese voortsit. "Mens is nooit te oud om te leer nie."
Kontak Johnwin by 068 063 9327 of stuur e-pos na cameronjohnwin@gmail.com
Johnwin Cameron (in pienk) op sy gelukkigste - tussen skoolkinders.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'