MOSSELBAAI NUUS - 'n Vyfster-vergadering met die kollig op demensie en Alzheimer se siekte is op 9 April by Kenani deur Tuine en Tossels gehou. Die geleentheid is deur Anita Nel en haar span gereël wat die lede met hul aankoms alreeds bederf het met koffie en heerlike gevulde pannekoeke.
Gert Meiring, bestuurder van Huis Elsjè vir pasiënte met demensie en Alzheimer se siekte het faktore bespreek wat aanleiding tot hierdie siektes kan gee.
Daar is egter min voorkomende maatreëls wat getref kan word. Deur na jouself te kyk, korrekte en matige voeding en gesonde eetgewoontes, gereelde oefening, sosiaal aktief te wees en jouself besig te hou asook om genoeg slaap te kry, kan help. Die verskillende fases van demensie is ook genoem en verduidelik. Dit begin baie matig en die vierde of terminale stadium vereis totale versorging.
Hierdie siektes het 'n geweldige invloed op die pasiënt se naasbestaandes asook die persoon self - emosioneel sowel as finansieel. Depressie, angs en onttrekking kan voorkom. Laat die persoon so gou moontlik gediagnoseer word, hoe gouer hoe beter. Eiendom moet demensie-vriendelik wees met geen los matte of goed wat rondstaan nie. Aftrede moet vroegtydig beplan word.
Na afloop van die die praatjie is Dot Art deur Febe Streicher met verskillende voobeelde van hierdie kunsvorm gedemonstreer. Dis maklik om te bemeester, ontspannend en pret met die bonus dat dit goedkoop is om te doen. Geen duur apparate en verf word benodig nie.
Rentia Rust kan nie 'n tweedehandse winkel verbystap nie. Met 'n bietjie kreatiwiteit kan meen sy, kan ou goed weer 'n splinternuwe lewe kry. 'n Ou mansbroek word 'n romp of 'n bloes. Truie word oopgeknip en versier met knopies en kant. Tekkies kan gevef word in enige kleur. Ou skinkborde en plekmatjies kry ook 'n nuwe lewe met 'n lagie verf bo-oor. Opsies is legio.
Die byeenkoms is afgesluit met Anita Nel se voorlesing van 'n komiese stuk het groot vermaak verskaf.
'n Nuwe toevoeging tot Tuine en Tossels gaan voortaan ook leefstyl insluit. Kundiges sal byvoorbeeld in die toekoms genooi word om inligting oor sekere onderwerpe te bied.
Febe Streicher met Dot Art voorbeelde.
Rentia Rust verduidelik hoe mens iets nuuts kan maak van ou items.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'